
‘n Vragmotor het in vloedwater in die duikweg op Rachel de Beer in Pretoria-Noord vasgesit. Meer foto’s volg onderaan die berig. Foto: Facebook.
Die broodnodige reën wat Maandag in Gauteng en ander provinsies geval het, het ook erge hael- en waterskade in sekere gebiede tot gevolg gehad.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het vroeër die dag ʼn waarskuwing uitgereik vir hewige donderstorms in vier van die land se provinsies wat met stormsterkte wind en hael gepaardgegaan het.
Talle buurte in die noorde van Pretoria waaronder Pretoria-Noord, Mountain View en Mayville is swaar getref waar die hael, wind en swaar reën kitsvloede veroorsaak het, verskeie huise laat oorstroom en dakke afgewaai het.
“ʼn Dak by Huis Hermon, ʼn tehuis vir bejaardes, in Pretoria-Noord het afgewaai. Die brandweer en die stad se rampbestuur het vinnig gehelp om die inwoners te beveilig,” het Dana Wannenburg, DA-raadslid van die omgewing, Dinsdag aan Maroela Media gesê.
Hy het gesê vier groot bome het in die omgewing omgewaai en paaie versper. “Die gemeenskap het soos één saamgewerk. Die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sektorpolisielede en inwoners het kettingsae wat deur sakeondernemings beskikbaar gestel is, gebruik om die bome in stukke te saag en te verwyder.”
Hy het gesê ʼn hoofroete na Pretoria-Noord, die duikweg op Rachel de Beerweg, was erg in vloed.
“Die GPF en sektorpolisie het die duikweg toegemaak omdat sommige mense deur die vloedwater wou ry. Die Tshwane-metro het teen 22:00 ʼn stootskraper gestuur om die meeste van die modder en slik te verwyder. Dié hoofroete is weer toeganklik vir verkeer.”
Groot skade is ook veral aan die Oos-Rand aangemeld. Die donderstorms het ook vlugte by die OR Tambo-lughawe vertraag, en kragpale aan die Wes-Rand omgewaai.
Robert Mulaudzi, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, het gesê daar word vermoed dat die storm tot ʼn noodlottige ongeluk gelei het waarin vyf mense dood is. ʼn Bakkie, wat mense agterop vervoer het, het op die M1-snelweg gery toe dit tussen die Greystone- en Marlboro-afritte omgeslaan en die mense van die bakkie afgeslinger het. Buiten die vyf mense wat dood is, is twee kritiek beseer.
Limpopo, veral die Hoedspruit-omgewing, het Sondag onder ʼn hewige storm deurgeloop en verskeie mense het foto’s op sosiale media gedeel van haelkorrels wat so groot soos tennisballe was. Nagenoeg 200 huise in dorpies, soos Apel, Sekhukhune en Mopani, is beskadig nadat die huise se dakke afgewaai het.
Jan Vermaak, weervoorspeller van die weerdiens, het gesê vir Dinsdag word enkele tot verspreide donderbuie oor die sentrale, noordelike en oostelike gedeeltes van die land verwag.
Hewige donderstorms kan in die weste van Noordwes, die sentrale en westelike gedeeltes van die Vrystaat en die noordoostelike dele van die Noord-Kaap verwag word.
Hier volg foto’s van die skade in die noorde van Pretoria en Mayville:
















