
Argieffoto
Drie regters het Maandag in die Pretoriase hooggeregshof uitspraak gelewer oor die lot van twee kleuters wat tydens geboorte in ʼn hospitaal omgeruil is.
Die regters het beslis dat die vyfjarige seuntjie en dogtertjie by die gesinne sal bly waar hulle grootgeword het. Die regters het gesê die kinders kan beskou word asof hulle aangeneem is deur die ouers wat hulle grootgemaak het, al het hulle geen formele aannemingsproses ondergaan nie. Hulle sal steeds kontak hê met hul biologiese ouers.
Die kinders is in 2010 by ʼn hospitaal aan die Oos-Rand omgeruil en die fout is eers byna drie jaar later ontdek toe een van die pa ʼn ouerskaptoets geëis het nadat die kind se ma op onderhoud aangedring het. Die uitslag het gewys dat nie een van hulle die biologiese ouers van die klein seuntjie is nie.
Prof. Ann Skelton van Tuks se Sentrum vir Kinderreg is deur die hof aangestel om die saak te ondersoek en aanbevelings te maak wat in die beste belang van die kinders sal wees. Die hof het Skelton se aanbevelings aanvaar.
Lees alle vorige berigte oor die kinders wat omgeruil is op Maroela Media.