
Argieffoto
Adjunkpresident Cyril Ramaphosa het Woensdag gesê hy sal ʼn vergadering belê met ʼn interministeriële komitee wat klagtes ondersoek oor die nuwe visumregulasies.
Ramaphosa het gesê die doel van die komitee, waarvan hy die voorsitter sal wees, sal oplossings soek vir die “onbedoelde gevolge” van die strenger visum-regulasies.
“Die regering is baie bewus van die besware wat gelug is oor ʼn aantal persone,” het Ramaphosa gesê oor klagtes van opposisiepartye en ondernemings in die toerismebedryf dat die nuwe regulasies beleggings en besoekersgetalle beïnvloed.
President Jacob Zuma het Dinsdag aangekondig dat die komitee op die been gebring word. 0
Volgens Ramaphosa sal die kabinetskomitee bestaan uit ministers in die sekuriteitskluster en hul kollegas in binnelandse sake, toerisme, handel en nywerheid en maatskaplike ontwikkeling. Hy wou hom nie verbind aan ʼn sperdatum nie.
Die visumregulasies het vroeër vanjaar in werking getree en vereis dat persone wat met kinders reis ʼn volledige geboortesertifikaat moet toon. Visumregulasies het verlede jaar in werking getree wat van reisigers vereis om visumaansoeke by Suid-Afrikaanse ambassades in te dien.