Wildbewaarders van KwaZulu-Natal moes vandeesweek inspring om twee volwasse renosters te red nadat hulle in ʼn modderpoel vasgeval het.
Musa Mntambo, woordvoerder van Ezemvelo KZN Wildlife, het aan Maroela Media gesê wildbewaarders en ʼn veearts van die organisasie is na ʼn wildreservaat in die provinsie ontbied waar die renosters in die modderpoel vasgeval het. Ter wille van die renosters se veiligheid, kan die naam van die reservaat nie bekendgemaak word nie.
Dr. Dave Cooper, die veearts, het foto’s van die reddingspoging op sosiale media gedeel. Hy het verduidelik dat die erge hitte wat landwyd ervaar word, veroorsaak dat diere gereeld in modderpoele wat droog word, vasval en gered moet word. Volgens Cooper word die reddingspoging verder bemoeilik deurdat die diere paniekerig is en reddingswerkers terselfdertyd moet keer dat hulle nie ook in die modder vassit nie.
Die renosters is verdoof, modder is uit hul neusgate gehaal en daar is seker gemaak dat hul koppe bo die modder gelig is. Daarna het werkers ʼn tou om die diere se koppe vasgemaak en hulle met behulp van ʼn trekker uit die modder getrek. “Onmiddellik nadat ons die diere wakker gemaak het, het hulle weggehardloop na vryheid,” het Cooper gesê. “Die bewaarders moes die renosters weghou van die modderpoel af en terselfdertyd seker maak hulle word nie bestorm nie – daar was nie tyd om nog foto’s te neem nie!”
Jed Bird, ʼn renostervang-beampte by Ezemvelo KZN Wildlife, het tydens ʼn vraag-en-antwoord-sessie op Facebook verduidelik dat renosters mal daaroor is om in modderpoele rond te rol. “Dit help hulle nie net om van ektoparasiete ontslae te raak nie, maar koel hulle ook af. Wanneer die renoster reeds in die modder is, verhoed die steil walle soms dat hulle kan uitkom,” het hy gesê.
Hy het gesê in gevalle waar ʼn trekker nie naby genoeg gebring kan word om die renoster uit te trek nie, is tussen 15 en 20 mense nodig om die swaar gewig uit die modder te lig. Die renosters word geensins seergemaak tydens hierdie reddingspogings nie.

