Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Nuuskommentaar: Zuma vlieg in ‘Sensasioneel 1’ die wêreld vol

$
0
0
Pres. Zuma saam met sy vrou Nompumelelo. Foto: GCIS/SAPA

Pres. Zuma saam met sy vrou Nompumelelo. Foto: GCIS/SAPA

Pres. Jacob Zuma meen Suid-Afrikaners neig om sensasioneel oor dinge te reageer, en dit ontgaan hom dat hy self maar te dikwels vir die “dinge” verantwoordelik is. Is die probleem nie dat Zuma fantaseer dinge is anders as wat dit werklik is nie, word in hierdie ope brief gevra.

Ope brief:

Pres. Jacob Zuma

p.a. President’s Royal Travel Agents

Uniegebou, Pretoria

Geagte pres. Zuma

Vir ’n arme nuuskommentator is dit deesdae baie moeilik om objektief die nuus te ontleed. ’n Goeie kommentator raadpleeg immers nie net so ’n wye verskeidenheid media en ander geskrewe bronne moontlik nie, hy of sy lees ook soveel moontlik kommentare van binnelandse en buitelandse kommentators.

En dis hier waar die knoop lê, want soos u nou self sê: Suid-Afrikaners sensasionaliseer graag kwessies.

Aan die spits van hierdie sensasionalisering sit natuurlik die media. Dink maar aan die kamp-opslanery met die Mandela-siekte en die Oscar Pistorius-verhoor. Die beste buitelandse kommentaarskrywers skryf selde oor Suid-Afrika, en ’n mens kan eintlik net analoë uit hul skrywes vir nuttige verwysingsraamwerke gebruik.

En so, sonder om dit te bedoel, het u nou sommer ’n geskikte naam vir die nuwe omstrede vliegmasjien aan die hand gedoen – Sensasioneel 1. Of soos u goewerment stellig sal verkies, Sensational 1. Dis nou omdat die bestaande vliegtuig, Inkvissie, oud en ondienlik begin word het.

U is immers die president wat loshande die meeste sensasionele nuus opgelewer het. Gewoonlik eiehandig wanneer u van die geskrewe toespraak afwyk. Dink maar aan Nkandla, storte wat vigs weghou, godsdiensuitsprake wat kerke boos gelaat het, die NVG, dat die president se lojaliteit teenoor die party belangriker is as teenoor die land, dat minderheidspartye minder regte het, u waarskuwing aan sakelui dat hulle in gevaar sal verkeer as hulle nie in die ANC belê nie, snedige opmerkings oor “slim swart mense”, die “vuurpoel” en vele meer.

Eintlik, geagte president, wil ek aan die hand doen dat die naam “Fantaseer 1” dalk meer geskik is. Want net soos gefantaseer kan word dat dit wat duidelik ’n swembad, en boonop ’n peperduur een soos ’n halflengte Olimpiese swembad, ’n vuurpoel kan wees, glo u en u raadgewers dat hoe blinker en vinniger u kan ry en vlieg, hoe meer styg u in statuur.

Daar word gefantaseer dat oorle apartheid vir al die land se probleme verantwoordelik is en dat dit so wonderlik gegaan het en almal soveel pret gehad het voor Jan van Riebeeck aan die Kaap aangeland het.

En eintlik het u oor die stort se magiese eienskappe gefantaseer. En daar is gefantaseer dat die minister van polisie se Nkandla-verslag geloofwaardiger as die Openbare Beskermer se verslag is.

Is die geweld en vandalisme wat nou veral in die Wes-Kaap by sekere universiteite en die parlement losgebreek het nie ook sensasioneel nie? Of sou die media dit net sensasioneel mag aangebied het as dit nie die ANC se eie stout kinders was wat daarvoor verantwoordelik was nie? Of fantaseer hulle dat dit eintlik sensasioneel is?

So tussenin maan die Vryheidsfront Plus, by monde van sy leier, dr. Pieter Mulder, oor die geweld: “Dit is welbekend dat beleggers, plaaslik en internasionaal, gereed is om honderde miljarde rande in die land te belê, maar hulle is tot dusver afgeskrik deur faktore soos beleidsonsekerheid, bedrog en korrupsie. Hierdie massa-aksies is ʼn bykomende rede waarom beleggers sal wegbly.” Fantaseer dr. Mulder dan dalk?

U weet, die uwe het die afgelope paar maande gereeld die geselskap van ’n groep mense beleef wat hartstogtelik uitsien om nog lank in Suid-Afrika te leef. Die uwe was deel van ’n groep wat chemoterapie kry en dikwels vir hul lewe veg – ’n lewe waar hulle weer normaal kan funksioneer, die vrugte van die land kan geniet, tyd met hul geliefdes kan deurbring, kleinkinders bederf, kerk toe gaan. In min hedendaagse geselskappe is sowat positiwiteit beleef, en die uitgesproke oortuiging dat die hemelse Vader goed is en dit moontlik sal maak. Die jong seun wil nog sy hospitaallewe vir skoolbanke en matriek verruil en hy glo hy gaan dit regkry.

Humor is nooit ver nie.

Maar weet u, as u naam opduik, verander die gemoed heeltemal. Al word daar hóé verlang, word familie wat hulle oorsee gevestig het, beny.

Fantaseer u dat u nié sommige mense se haalbare drome vernietig en ander se drome deur onhaalbare beloftes vernietig nie?

Fantaseer u dat u nooit gewaarsku is dat om apartheid (en later Jan van Riebeeck) vir alles wat verkeerd is te bly blameer eendag gaan boemerang nie? Miskien sal dit al beter gaan as u meer dikwels blitsbesoeke met Inkvissie aan Suid-Afrika bring en koppe met u nuwe span raadgewers stamp. Maar dalk is die koeël reeds deur die kerk en word u met 2017 se ANC Nasionale Kongres gepos. En onthou dus u fantasie dat dit belangriker is om lojaal aan die ANC as die land te wees – en sensasioneel-ironies as u eie party u gaan uitspoeg.

Groete van huis tot Nkandla Compound!

Die uwe

Sensasionele Knersus Fantasia

 


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621