
Argieffoto
Die 23-jarige man wie se onthoofde liggaam vandeesweek in ʼn woud in KwaZulu-Natal opgespoor is nadat hy sedert 31 Oktober vermis is, se kop is vermoedelik ook opgespoor.
Brig. Jay Naicker, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê ʼn man se ontbinde kop, vermoedelik dié van Nawaaz Khan, is Dinsdagaand deur speurders en forensiese kenners van die Umzinto-polisie in ʼn plantasie in Ellingham langs die N2-snelweg in Park Rynie gevind.
“Die polisie is omstreeks 16:30 in kennis gestel dat inwoners van die Msholozi-informele nedersetting in Umzinto om die huis van ʼn verdagte saamdrom,” het Naicker gesê.
Naicker het gesê ʼn 31-jarige verdagte, wat ook weens Khan se moord gesoek word, is in die huis gevind en in hegtenis geneem.
“Verdere ondersoek het die speurders na die plantasie gelei waar ʼn man se kop, begrawe is. Dit was erg ontbind en in verskeie plastieksakke.”
Die kop is na die staatslykshuis in Park Rynie geneem waar monsters bekom is wat vir forensiese toetse gestuur gaan word om te bevestig of dit wel Khan se kop is.
“Die verdagte wat aanvanklik in Malangeni gewoon het, behoort binnekort in die Umzinto-landdroshof te verskyn.”
Intussen het Khan se vriend, Thandowakhe Duma (21), Dinsdag die eerste keer in die hof verskyn in verband met Khan se moord. Die saak is tot 19 November uitgestel wanneer hy na verwagting om borgtog sal aansoek doen. Hy bly in aanhouding.
Maroela Media het vroeër berig Khan is op 31 Oktober as vermis aangemeld. “Alle pogings om hom op te spoor was tevergeefs. Hy was na bewering in die geselskap van ʼn goeie vriend toe hy die laaste keer lewend gesien is,” het Naicker vroeër gesê.
Naicker het gesê terwyl speurders die afgelope naweek die vriend [Duma] ondervra het, het hy erken dat hy weet waar Khan se liggaam is. Hy het die speurders na die woud op Isonti geneem, waar hy die liggaam aan hulle uitgewys het.
“Khan se vriend het glo vroeër ʼn tradisionele geneser gaan spreek wat versoek het dat hy vir hom ʼn mens se kop bring wat sal help om sy probleme op te los,” het Naicker gesê. Die geneser en Khan se vriend het hom glo na die woud gelok, waar hulle hom met ʼn mes aangeval en sy kop afgesny het.
Sy aanvallers het sy selfoon, klere en tekkies gevat.
Duma het glo ʼn volle skulderkenning afgelê.