
Zuma en Merkel. Foto: Elmond Jiyane
Zuma se ampsbesoek aan Duitsland kan op baie maniere beskou word nadat Suid-Afrika, onder Zuma se leiding, sy heil sterk by China gesoek het en handel met die Weste afgeskeep het. Daar was veral vanuit Duitsland reperkussies en ministers moes inspring en paai.
Daarna het Zuma in een van sy onbekookte oomblikke ʼn striemende aanval op die Weste en Wes-Europa in die besonder, geloods oor die oorsaak en hantering van die vlugtelingkrisis in Wes-Europa.
Nou is die vlugtelingkwessie, benewens die wedersydse handel, op die tafel. Zuma het reeds gesê Duitsland en Suid-Afrika kan baie by mekaar leer oor die vlugtelingkwessie – ʼn radikale omkeer en witvoetjiesoekery as toe hy eers lakens aan die Weste uitgedeel het.
Wat egter opval, is dat die internasionale media die besoek as ʼn blote nietigheid beskou en kwalik daaraan aandag skenk – as daar aandag aan geskenk word. De Standaard rep byvoorbeeld, soos die Duitse Focus Online, nie ʼn woord oor die besoek nie en The Telegraph net so min. De Standaard dra wel ʼn berig wat handel oor die baie seuntjies wat in Suid-Afrika gebore is nadat die land die Wêreldbekersokkertoernooi aangebied het. Die besoek is egter nog nie verby nie en nuusdekking kan dalk opvang, maar dit lyk asof die Suid-Afrikaanse nuusdekking oor die gebeure die internasionale belangstelling gaan oortref.
Bygesê, die byna legendariese oud-kanselier van Duitsland, Helmut Schmidt, se afsterwe het met die ampsbesoek saamgeval en oorheers die Duitse mediadekking.
Nogtans het Angela Merkel haar protokol-rol teenoor Zuma stiptelik nagekom en die rooi tapyt uitgerol. Merkel het Suid-Afrika as een van die belangrikste Afrikalande geprys en ook na die omvang van handel tussen Suid-Afrika en haar land verwys.
Al kan mens kwalik aan ʼn groter onpaar van regeringshoofde dink, het Merkel Zuma as gelyke behandel.
Maar in die praktyk is dit ʼn geval van gelyk en ongelyk tegelyk. Op die lys van bes besoldigde regeringshoofde pas Zuma ewe snoesig tussen Merkel en die Britse premier, David Cameron in. Wanneer Zuma se salaris egter uitgedruk word in terme van elke miljard dollar wat sy land se BNP beloop, verdien Zuma nege keer meer as Merkel. Dit sluit nie die koste in wat dit die staat kos om sy vier vroue te onderhou nie en ook nie ander byvoordele, soos besteding aan sy private woning nie. Tot verhouding kry Zuma 27 keer meer as Obama.
Kortom, Zuma bied die swakste waarde vir geld ter wêreld.
ʼn Besliste simptoom van ʼn piesangrepubliek sou sommiges sê. ʼn Dikvellige ongevoeligheid teenoor sy land se armes en werkloses, sou ander sê.
Zuma, by wyse van spreke, is ʼn man van kaviaar en nie die tradisionele Duitse gereg van varkvleis en aartappels nie. ʼn Regte blink Stefaans.
In plaas daarvan om Zuma met ʼn tang te hanteer, is hy met ʼn volle militêre parade verwelkom en ʼn erewag-toekenning aan hom oorhandig.
Maar gaan Zuma se besoek in die praktyk die lug suiwer oor die troebel aspekte waarvoor veral minister Rob Davies verantwoordelik is? Ja, daar sal stellig gesê word alles vlot nou (weer) seepglad, maar gaan dit lippediens wees soos wat telkemale met die land se verbintenis tot AGOA gebeur het en Suid-Afrika nou in ʼn knyptang laat beland het?
Merkel het immers in die voormalige Oos-Duitsland grootgeword en haar pa is in ʼn stadium deur die kommuniste in die tronk gestop. Sy was nadat sy aan bewind gekom het, die groot dryfveer agter die peperduur projek om die voormalige Oos-Duitsland se ekonomie en welvaart, wat deur die kommuniste afgetakel is, min of meer op peil met dié van die res van Duitsland te kry.
Haar adviseurs sal haar wel inlig oor hoe Zuma onlangs gesê het dis die ideaal van die drieparty-alliansie om ʼn sosialistiese, kommunistiese staat in Suid-Afrika te skep. Dit gaan nie juis help om die Duitse beursie oop te kry nie – ʼn beursie wat in elk geval maar dunnerig is danksy die ekonomiese probleme waarmee die wêreld nou te kampe het.
Wanneer die praatjies en gebare wat protokol vereis het wegsterf, sal gesien word wat die besoek in die praktyk werklik opgelewer het.
Die SAUK-TV kan probeer om die besoek te gebruik om Zuma presidensieel voor te stel, maar die wind waai wes.