
Argieffoto (Foto: weronica0, Pixabay)
Die burgerregteorganisasie AfriForum het Dinsdag gesê met ʼn waterkrisis in Suid-Afrika is dit uiters belangrik vir landsburgers om te weet wat die kwaliteit van hulle water is, sodat hulle waaksaam kan wees teen gesondheidsrisiko’s.
“Weens die skaarsheid van waterbronne en die gebrek aan reënwater om die besoedelde sisteme in hierdie droogtetydperk aan te vul, is die kwaliteit van water besig om te versleg en sodoende meer druk op munisipale sisteme te plaas,” het Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, gesê.
Kleynhans het bygevoeg dat afgesien van die droogte, is die grootste risiko vir Suid-Afrika die versuim van die departement van waterwese en sanitasie om te reguleer. “Omdat die reguleerder sy plig versuim, het slegs 25% van drinkwatersisteme in 2013 aan waterkwaliteitstandaarde voldoen en word nagenoeg 4 miljard liter gedeeltelike en ongesuiwerde riool daagliks in ons riviere en damme uitgestort, wat die risiko vir besoedeling en die uitbreek van siektes buitensporig verhoog,” het hy verduidelik.
AfriForum het gevolglik Maandag ʼn aanmaningsbrief sowel as ʼn navraag ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan Margaret-Anne Diedricks, direkteur-generaal van DWS, gerig om agterstallige waterkwaliteitverslae te publiseer.
Ten einde AfriForum in staat te stel om Suid-Afrikaanse burgers se reg tot skoon water te verseker, het die organisasie dringend versoek dat die DWS die volgende lewer:
1. Afskrifte van die volledige 2013 Groendruppelverslag wat veronderstel was om in Julie 2013 bekend gestel te word en waarvan slegs ʼn bestuursoorsig in Januarie 2015 aan die publiek bekend gestel is;
2. Afskrifte van die volledige 2014 Bloudruppelvorderingsverslag wat in September 2015 bekend gestel moes word; en
3. Afskrifte van die nuutste Regulatoriese Prestasiemoniteringsisteemverslae.
“In die inleiding van die 2013 Bloudruppel Bestuursoorsig het die DWS geen voorneme getoon om op te tree teen kriminele munisipale amptenare nie,” het Kleynhans gesê. Hy het toe die volgende aangehaal uit die 2013 Bloudruppel Bestuursoorsig: “It is not the purpose of this assessment to criminalise poor or high risk drinking water services and water quality, but rather to act as a precautionary tool, warning the Water Services Institutions in the country about the level of risk at which water services and water quality is delivered to the citizens of South Africa.”
AfriForum het genoem dat die verslae deur hardwerkende belastingbetalers gefinansier word en indien daar in ag geneem word dat dit die eiendom van die publiek is, moet die volledige verslae bekend gestel word. “Indien hierdie verslae nie binne die raamwerk van die PAIA bekend gestel word nie, sal ons die howe nader om ʼn interdik teen die DWS te bekom wat hulle sal dwing om die dokumente aan die publiek bekend te stel.”