Net soos die Zuma-administrasie nou deur die AGOA-debakel leer Suid-Afrika is in die praktyk nie die VSA se gelyke nie, gaan die #FeesMustFall-bittereinders wat wetteloosheid nou so inspan, op die ou einde leer hulle is nie die owerheid se gelyke nie.
Suid-Afrika is nou met die AGOA-koppestampery besig om ʼn paar belangrike lesse by die VSA te leer. Die vernaamste les is dat state in die wêreldorde tegelyk ongelyk en gelyk is.
Eintlik behoort die Zuma-administrasie dit mooi te verstaan. Net soos Suid-Afrika formeel met die mond verklaar dat die state in die Afrika-Unie gelyk is, maar Suid-Afrika in die praktyk ʼn gesagsposisie saam met ander grotes van die kontinent opeis, so sal Suid-Afrika in die wêreld op die grootte van sy jas beoordeel word.
Wanneer Suid-Afrika vir Afrika ʼn permanente setel in die VN se Veiligheidsraad (met vetoreg) opeis, is die idee immers nie dat een van die kontinent se kleintjies in die setel inskuif nie.
Toe pres. Barack Obama effektief ʼn ultimatum aan Suid-Afrika gestel het om sy sake agtermekaar te kry of uit AGOA geskop te word, het Obama Suid-Afrika se burokratiese rompslomp in die oog gehad. Hy is heel waarskynlik ook geïrriteerd met Suid-Afrika se flankeerdery met sy Brics-vennote, veral China en algemene louheid teenoor sy westerse handelsvennote, terwyl die land tog wil aanhou skep uit die voortsetting van die AGOA-wet wat vir Afrikalande wat daarvan deel is, enorme handelsvoordele inhou.
Suid-Afrika se verwere oor waarom die saak nog nie afgehandel is nie, soos om seker te maak dat die invoer van kos, veral vleis uit die VSA, aan gesondheidsregulasies voldoen, is waarskynlik geldig. Daar is min twyfel in baie Suid-Afrikaners se gemoed dat die VSA veral hoenders en in die besonder hoenderdye, op die Suid-Afrikaanse mark wil stort.
Weens die Yanks se eetvoorkeur is daar ʼn enorme surplus hoenderdye in die VSA en Suid-Afrikaanse hoenderboere is besorg daaroor dat hulle nie met koste teen die gesubsidieerde Amerikaanse bedryf kan meeding nie.
Suid-Afrika se verweer is dat baie mense se gesondheid nie net moontlik in gevaar gestel word nie, maar hul lewens.
Die idee is egter nie om hier ʼn komplekse saak te probeer ontleed en te besluit wie meer reg en wie meer verkeerd is nie. Die kort en die lank daarvan is Suid-Afrika is as wêreldspeler nie die VSA se gelyke nie, al is Suid-Afrika ook hoé grootmeneer op die Afrika-kontinent. En Suid-Afrika het een van die belangrike spertye skynbaar sonder behoorlike verduideliking bloot laat verstryk. Die indruk is geskep dat Suid-Afrika bloot van die VSA verwag het om in te val by Suid-Afrika se eensydige tydsraamwerk.
Boonop vereis omstandighede dat Suid-Afrika meer strategies as volgens beginsels optree, veral as dit darem die vreeslikste vreemde beginsels behels soos kort-kort deur pres. Jacob Zuma verwoord.
Die werklikhede daar buite is duidelik. Die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD) het pas sy wêreldwye ekonomiese groeivooruitsigte ingekort tot twee persent. Dié twee persent word beskou as optimisties. Die OECD wys daarop wanneer groei in die verlede tot twee persent gedaal het, het ʼn wêreldwye resessie gevolg.
En wanneer ʼn wêreldwye resessie (om nie te praat van werkloosheid tuis nie) so dreig, gaan klap ʼn kleintjie mos nie die lolliepop weg van voorkeurhandelsvoordele wat die grote na hom uithou net omdat hy ongelukkig is oor die lengte van die stokkie nie.
Hierdie beginsel van gelyk maar ongelyk, tegelyk, speel hom in feitlik elke lewensfeer af, soos goed uitgebeeld in George Orwell se Animal Farm waar “All animals are equal, but some animals are more equal than others”.
Hierdie les staar is byvoorbeeld gerig op heelwat van die studente en werkers wat steeds voortgaan met betogings en wetteloosheid ná die #FeesMustFall-veldtog eintlik verbasend maklik in hul guns verloop het.
Hierdie wetteloses, met hul soms verregaande eise, is nie die gelyke nie en nog minder die meerdere, van die universiteitsowerhede, studente wat nou eksamen skryf en die howe wat hulle nou so uitdaag.
Al rol hoeveel lande vir Zuma die rooi tapyt uit, al spreek die Chinese owerhede hom ook as “doktor” aan, al staan “sy” Inkwazi net vir Air Force One terug (en word glo beplan om Inkwazi met ʼn nog duurder vliegtuig te vervang), maak dit Zuma nie in die praktyk die wêreldgroottes se gelyke nie.
Uitspattigheid en onbekookte eiesinnigheid koop nie styl nie, net kômmingeit.
Beskeidenheid, redelikheid en respek, saam met beginselvastheid, getuig van ʼn goeie opvoeding.
En raai wie is nou knaend in die nuus in Suid-Afrika en vertroebel die land se beeld?