
Montana Crossing (Foto: Mall Guide)
Ses gewapende mans wat Donderdagaand op die Pick n Pay by Montana Crossing in Pretoria toegeslaan het, is nog op vrye voet.
Die mans het Donderdag die supermark betree toe kassiere besig was om vir die dag af te sluit, het die polisie Saterdag gesê. Hulle het die kassiere gedwing om kontant in sakke te druk en hulle het ook van die geldlaaie van die kitsbank in die winkel gebuit.
Hulle het die werknemers, wat agter die toonbank werk, gedwing om op die vloer te lê en sigarette gebuit, het die polisie gesê. Hulle het twee skote buite die winkel gevuur voor hulle in ʼn BMW en Audi gevlug het.
Die polisie het die verdagtes agternagesit en beamptes het die BMW van die pad afgedwing. Die verdagtes het te voet gevlug.
Die polisie het beslag gelê op kontant, kasregisterlaaie, selfone, ʼn hamer en klere wat in die motor agtergelaat is.
Die polisie het lede van die publiek gewaarsku die verdagtes is gewapen en gevaarlik en om hulle nie te konfronteer nie.