Phosa het die uitlating Donderdag gemaak tydens ’n Mistra-konferensie oor witheid, Afrikaans en Afrikaners by Konstitusieheuwel in Johannesburg. Hy het gesê Suid-Afrika se ekonomie sukkel op ʼn substandaardvlak voort weens die land se onvermoë om die vaardighede en kennis wat beskikbaar is, bymekaar te maak en te benut, asook die inmenging van die regering in arbeidsbeleidstellings en arbeidspraktyke.
“Die ekonomie kan slegs teen die verwagte vlakke groei wanneer ons erken dat almal ʼn gelyke rol en verantwoordelikheid het om dit suksesvol te maak,” het hy gesê.
Volgens Phosa is suksesvolle nasies gebou op onderrig, vaardigheidsopleiding en die benutting van ervaring. Hierdie nasies ken aansienlike hulpbronne aan navorsing, ontwikkeling en entrepreneurskap-ondersteuning toe.
“Kom ons maak die deur oop en verwelkom die goed opgeleide en ervare Afrikaners en ander wit mense terug wat hul geliefde land verlaat het op soek na sekuriteit, stabiliteit en erkenning van hul bydrae tot die ekonomie. Kom ons maak dit maklik vir hulle om terug te kom en te bly,” het hy gesê.
Oor die onderwerp van maatskaplike stabiliteit het Phosa gesê die momentum van die studente-uitdagings oor die afgelope paar weke blyk onstuitbaar te wees en moet as gids dien vir wat in die toekoms mag kom.
“Ons het al verdeeldheid in die verlede gesien. Betogingsaksie, besetting van openbare ruimtes, militêre retoriek en die afbreek van lewensnoodsaaklike infrastruktuur – ons het inderdaad al gesien hoe dit keer op keer gebeur.
“Na aanleiding hiervan volg daar, soos altyd, ʼn senuweeagtige middelklas, en ondernemings en instansies wat skarrel om hul bates te beskerm en planne maak om projekte en groeiplanne te laat vaar. Dikwels is die regering nêrens te sien nie en kom eers op die toneel as die rook al dik hang en veiligheidsmagte tot die einde van hul kragte beproef is,” het hy gesê.
“Dan hoor ons die beloftes, die politieke gestoei vir posisie en die massa wat uitmekaar gejaag word. Hulle hergroepeer gewoonlik weer in ʼn ander vorm met ʼn ander agenda, maar hulle hergroepeer beslis. Sal die volgende krisis ontstaan uit oumas wat die parlement beset op soek na hoër pensioene en ander maatskaplike welsynsvoordele wat net verdere druk op die ekonomie sal plaas?”
Hy het bygevoeg dat ʼn konflikvrye Suid-Afrika wat deur volhoubare ekonomiese groei en volle indiensneming versterk word, langtermyn ekonomiese en politieke stabiliteit op die kontinent en die res van die wêreld sal aanhelp.
“Terwyl menseregte en menslike ontwikkeling net so belangrik is vir ekonomiese stabiliteit en vooruitgang, is konflikoplossing, die vestiging van stabiele demokrasieë en langtermyn kapitale beleggings en ekonomiese groei voorvereistes vir regverdigheid en streekstabiliteit. ʼn Suksesvolle en hegte nasie maak gebruik van praktyke waar almal gelyk behandel word. Hulle pas die wet in alle aspekte van sosiale lewe deurgaans toe en sonder vooroordeel. Hul leiers lei van voor, neem deel aan opbouende debatte, aanvaar verantwoordelikheid vir nasiebou en veroordeel alle korrupte aktiwiteite,” het Phosa gesê.
Afrikaans speel ʼn sleutelrol
Hy het bygevoeg dat Afrikaners deur baie sterk besigheid- en gemeenskapstrukture soos die Afrikaanse Handelsinstituut, die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) en die plaaslike sakekamers, ʼn belangrike rol in die ontwikkeling van Suid-Afrika speel. “Ons antagonisme teenoor ʼn taal of die persone wat dit as ʼn moedertaal by die huis praat, is dikwels gegrond op ons persepsies of ʼn tekort aan inligting,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat ʼn ontleding van die 2011-sensus getoon het dat meer swart, bruin en Indiër-Suid-Afrikaners Afrikaans by die huis praat as wit Suid-Afrikaners. Volgens ʼn studie deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge is slegs 40% van Afrikaanssprekendes wit. Dit beteken dat slegs 2,7 miljoen van die 6,9 miljoen mense wat Afrikaans praat, wit is terwyl die res uit ander rassegroepe bestaan.
“Kortweg, die resultate van die 2011-sensus het aangedui dat Afrikaans deur 13,5% van die bevolking by die huis gepraat word, slegs tweede teenoor die 22,7% van die bevolking wat iSiZoeloe by die huis praat. Ek doen ʼn beroep op wit Afrikaners om te help om ʼn inklusiewe en innemende kulturele band tussen alle Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners te bou as fondament vir inklusiwiteit en nasiebou sonder uitsluiting van ander kulturele en bevolkingsgroepe.
“Ons is almal Suid-Afrikaners, of dit nou deur geboorte, afstammeling, naturalisasie of ʼn ander aksie van binnelandse sake is. Kom ons oorbeklemtoon nie wit-wees, Afrikaners, Afrikaans of enige ander gewilde term nie,” het hy afgesluit.