Dessie Rechner, stigter en direkteur van die Pink Ladies, ʼn organisasie wat hom daarop toespits om vermiste mense op te spoor, het aan Maroela Media bevestig Alliya is Donderdag gevind. Volgens Rechner is Alliya ongedeerd gevind in die omgewing waar sy vermis geraak het. “Raadslid Rashida Landis het ʼn sleutelrol gespeel in die opsporing van die kind,” het sy gesê.
Rechner wou egter nie uitbrei oor die omstandighede rondom Alliya se verdwyning of bekendmaak saam met wie sy was toe sy gevind is nie. “Die ondersoek na die saak gaan steeds voort, daarom kan ons nie nou meer sê nie,” het sy gesê.
Maroela Media het vroeër berig Alliya het vermis geraak nadat sy die middag saam met twee vriende na ʼn winkel naby hul huis gestap het en nie weer teruggekeer het nie. Haar ma, Sally, het gesê sy en haar man soek onverpoosd na Alliya en het al haar vriende gekontak om te hoor of iemand weet waar sy is. Sally kon nie Vrydag vir kommentaar bereik word nie.
Konst. Michael Kgatle, woordvoerder van die polisie, wou ook geen meer inligting bekendmaak nie. Hy het gesê die polisie ondersoek nie ʼn klag van ontvoering nie.