Die kleinseun van voormalige pres. Nelson Mandela wat van verkragting aangekla word, sal Vrydag weer in die Johannesburg-landdroshof verskyn.
Die 24-jarige man, wie se naam nie bekendgemaak mag word totdat hy gepleit het nie, is in Augustus op R7 000 borgtog vrygelaat. Hy word daarvan beskuldig dat hy op 7 Augustus ʼn 15-jarige meisie in ʼn badkamer van ʼn restaurant in Greenside verkrag het.
In die verklaring wat die man tydens sy borgtogverhoor ingedien het, beweer hy die meisie het tot seks ingestem.
Sy borgtogvoorwaardes is in September aangepas sodat hy vir depressie by die 1 Militêre Hospitaal in Pretoria behandel kon word. Hy moet ook twee keer ʼn week by die Lyttelton-polisiestasie aanmeld.