Eddie Kritzinger (44) en Audrey van der Merwe (50) is omstreeks 10:00 by hul huis oorval terwyl sy wasgoed opgehang het en Eddie die boorgatpomp in ’n buitekamer gaan aanskakel het.
Hennie Klopper, eienaar van die lodge, het gesê Eddie is erg verniel. Hy moes steke aan sy kop kry en sy liggaam is oortrek van rou wonde soos die aanvallers hom oor die sement rondgesleep het. “Hy het hom teëgesit, maar die drie was te veel vir hom. Hulle het hom baie seergemaak.”
Volgens Klopper is daar groot kommer in die gemeenskap oor die hoeveelheid rondlopers in die omgewing. Gedurende die Paasnaweek het verdagtes die drade geknip en deurgekruip om toegang tot die lodge te kry. Verskeie gaste se besittings, waaronder selfone, kameras en skootrekenaars, is gesteel.
“Ons is weerloos en magteloos. Iemand het onlangs ook by ons bure ingebreek, waar die boosdoeners met vuurwapens weggekom het.” Klopper het gesê hulle kry goeie samewerking van die polisie en hy hoop die verdagtes word gou aangekeer.
“Dit maak mens egter moedeloos as daar soveel aanvalle in jou omgewing is. Jy wonder elke keer wanneer dit jou beurt gaan wees.” Volgens Klopper was die lodge sy groot droom om ’n plekkie in die natuur van sy eie te hê. “Ek weet egter nie of dit die moeite werd is nie. Ek dink maar daaraan of dit nie beter sal wees om te emigreer nie.”
Die aanval op Kritzinger en sy vriendin is een van drie in die omgewing die afgelope naweek. Monique van den Berg (24) het skedelbreuk en breinbloeding opgedoen en haar man, Christo (26), is in die been geskiet nadat twee aanvallers hulle op ʼn plaas net buite Rustenburg oorval het. Nog ʼn egpaar is Vrydagaand op ʼn plaas in die Elandskraal-omgewing buite Mooinooi deur sewe gewapende rowers oorval.