Pistorius is verlede jaar in die hooggeregshof in Pretoria skuldig bevind aan strafbare manslag nadat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag 2013 doodgeskiet het. Die staat het kort daarna gesê hy sal teen die skuldigbevinding appelleer en vra dat die voormalige Paralimpiese atleet aan moord skuldig bevind word.
Gerrie Nel, die staatsaanklaer, het Dinsdagoggend gesê die saak is ʼn duidelike geval van moord. Volgens Nel het Pistorius baie goed geweet wie in die badkamer van sy huis in Pretoria-Oos was toe hy vier skote na die deur afgevuur en Steenkamp doodgeskiet het. Nel het gesê Pistorius kon voorsien dat die persoon agter die deur doodgeskiet sou word en dat hy bedoel het om die persoon in die badkamer dood te skiet, ongeag of hy geweet het dat dit Steenkamp was.
Barry Roux, Pistorius se regsverteenwoordiger, het gesê hy sal elke standpunt van die staat verkeerd bewys. Roux het gesê die hooggeregshof het geen bewyse uitgesluit soos Nel beweer nie en dat regter Thokozile Masipa elke aspek van die saak in ag geneem het.
Roux het ook gesê verskeie getuies het sy kliënt se weergawe van die gebeure gestaaf – van bure wat Pistorius daardie aand hoor skree het, tot mense wat kort ná die voorval op die toneel was. “Dit is onregverdig om te sê die hof het bewyse geïgnoreer,” het Roux gesê. Nel het vroeër gesê as Masipa al die staatsgetuies se getuienis in ag geneem het, sou dit Pistorius se weergawe van gebeure totaal onmoontlik gemaak het.
Regter Stephen Majiedt het Roux uitgevra oor die bewering dat die hof die ondersoekbeampte se getuienis geïgnoreer het. Volgens Roux het die beampte, Chris Mangena, se rekonstruksie van die misdaadtoneel verskeie van die staat se stellings uitgeskakel, wat insluit dat Pistorius op sy stompies was toe hy die skote afgevuur het.
Volgens Majiedt was Mangena se getuienis belangrik omdat dit bewys het dat die persoon in die badkamer naby aan die deur was en regop gestaan het, in teenstelling met die verdediging se weergawe dat Steenkamp besig was om die toilet te gebruik toe sy geskiet is.
Majiedt het ook gesê dit bewys Pistorius het gekies om koeëls te gebruik wat erge skade aan die menslike liggaam sal aanrig.
Roux het erken dat Steenkamp nie deur ʼn muur beskerm was soos sy sou wees as sy die toilet gebruik het nie. Hy het egter gesê dit maak geen verskil aan die wetlike aspekte wat tydens Dinsdag se verrigtinge bespreek is nie.
Roux het in antwoord op ʼn vraag van regter Eric Leach gesê hy kan nie ontken dit sou moontlik wees dat iemand doodgeskiet sou word indien vier skote in ʼn klein spasie op hulle afgevuur word nie. Hy het daarna na Kanadese regspraak verwys oor die argumentering van die wet teenoor feite, wat beteken dat die staat slegs die toepassing van die wet kon bevraagteken.
Leach het aan Roux gevra of Pistorius se bedoeling toe hy geskiet het sou verskil het as hy geweet het wie agter die toe deur was. “Die kwessie hier is of [Pistorius] kon voorsien wat die gevolg van sy aksies sou wees,” het Leach gesê. “Daar was geen bedoeling om onwettig op te tree nie,” het Roux gesê. “Dit was [regter Masipa] se benadering.”
Roux het gesê indien die hof met die staat se appel wou saamstem, sou dit feitelike bevindings deur Masipa moet uitskakel. Hy het ook gevra of Pistorius dan nie twee keer vir dieselfde oortreding skuldig bevind sou word indien die hof Masipa se uitspraak sou verander nie. Roux het weereens daarna verwys dat Pistorius albei sy bene verloor het en gesê dit is onregverdig om na die situasie te kyk “vanuit die perspektief van iemand wat daar staan met twee bene”.
Die vyf regters het hul uitspraak voorbehou en sal dit na verwagting binne die volgende paar weke lewer. Indien die staat suksesvol is in hul appèl, sal Pistorius ʼn minimumvonnis van 15 jaar tronkstraf kan kry.