
Argieffoto
Loui Donovan Diedricks (25) is in die Pietermaritzburg-streekhof tot tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die verkragting van ʼn 15-jarige meisie.
Volgens kol. Jay Naicker, provinsiale polisiewoordvoerder van KwaZulu-Natal, is Diedricks tot 15 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy die meisie op 3 September vanjaar in die Howick-omgewing verkrag het toe sy haar ma gaan besoek het.
“Die man het die slagoffer met ʼn mes gedreig en in die bosse in die Curry’s Post-omgewing ingedwing waar hy haar verkrag het,” het Naicker gesê.
Die voorval is by die Howick-polisiestasie aangemeld. Diedricks is op 26 Oktober opgespoor en in hegtenis geneem. Hy is Vrydag skuldig bevind en gevonnis.
Lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, die provinsie se polisiekommissaris, het Maandag die Howick-polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings geloof vir die deeglike en spoedige ondersoek wat bygedra het dat die skuldige vinnig vervolg kon word.