Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

‘Begin van die einde vir Afrikaans op die Puk’

$
0
0
nwu-potch-puk

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

Die eensydige besluit dat eerstejaarsklasse op die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus vanaf volgende jaar deur middel van parallelmediumonderrig aangebied sal word, sal die begin van die einde vir Afrikaans op dié kampus beteken. Sό het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, Vrydag gereageer op ʼn amptelike mediaverklaring deur die universiteitsraad se institusionele bestuur rondom die hersiening van die Puk se taalpraktyk.

Luidens die verklaring het die uitvoerende komitee van die NWU-Raad gister besluite onderskryf wat Woensdag 28 Oktober deur die universiteit se bestuur geneem is. Daar is besluit dat parallelmediumklasse vanaf die begin van 2016 in groot eerstejaarmodules op die Potchefstroomkampus van die NWU geïmplementeer sal word. Geen tolkdienste sal in hierdie klasse verskaf word nie.

“Vir die daaropvolgende jare sal hierdie instelling ook geld vir tweedejaarklasse vanaf 2017 en derdejaarklasse vanaf 2018,” het die bestuur in ʼn verklaring gesê. “Dit word gedoen in ooreenstemming met die bestaande taalpraktyk en die behoefte om ʼn meer inklusiewe taalbeleid op die Potchefstroom-kampus te bewerkstellig.” Die uitvoerende komitee het dit benadruk dat Afrikaans nie bedreig word as ʼn taal van onderrig deur hierdie besluit nie.

Buys het egter gesê die besluit is nie deur die universiteitsraad bespreek nie en is sonder die nodige mandaat van die universiteitsraad geneem.

“Die universiteit se institusionele bestuur is nie by magte om enige besluite rondom veranderings aan die universiteit se taalpraktyk te neem nie,” het Buys bygevoeg. “Die aanbied van parallelmediumklasse by die Puk sal bloot ʼn tydelike oorgangsmaatreël wees om Afrikaans uiteindelik as onderrigtaal uit te faseer. Dit is reeds die geval by talle ander universiteite wat ʼn parallelmedium-taalpraktyk aangeneem het.”

Buys meen voorts die besluit is ʼn drastiese afwyking van die universiteit se bestaande taalpraktyk. “Daar is geen behoeftepeiling onder studente, dosente en personeel onderneem om te bepaal of hulle hierdie verandering steun nie. Die uitvoerbaarheid van parallelmediumklasse op die Puk is boonop nie deur die universiteit getoets nie. Daar is dus nie vasgestel of die universiteit oor die nodige infrastruktuur beskik om parallelmediumklasse aan te bied nie. Die model is boonop nie getoets nie.”

Volgens hom sal parallelmediumklasse boonop weens die dubbele aanbieding van klasse onnodige bykomende uitgawes vir die universiteit sal inhou, terwyl dosente se werkslas sal verdubbel en die universiteit se navorsingsuitsette sal afneem.

“Ek sal kragtens my posisie as universiteitsraadslid die kwessie rondom die hersiening van die universiteit se taalpraktyk met die res van die raad en raadsvoorsitter opneem. Hierdie besluit mag eenvoudig nie onbetwis deurgevoer word nie aangesien dit enorme gevolge vir die universiteit en studente inhou. Ons ervaring by ander universiteite, wat dieselfde praktyk volg, is dat sodra ʼn taalgemeenskap se taal uitgefaseer word, die bepaalde groep ook uiteindelik uitgefaseer word,” het Buys gesê.

Die uitvoerende komitee het ook gesê ʼn aggressiewe inisiatief om swart akademici aan te stel en te behou duur voort. “Vir die Potchefstroom-kampus beteken dit, inter alia, dat geen akademikus wat waarde kan toevoeg tot ons akademiese doelwit, as minder verkieslik beskou sal word omdat die persoon nie in Afrikaans kan doseer nie.”

Die uitvoerende komitee het ook in die verklaring bygevoeg dat die kwessie rondom Totius se standbeeld en ander simbole dwarsoor die universiteit dringend bespreek moet word. “Dié saak moet teen 28 Februarie 2016 afgehandel wees,” aldus die verklaring.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621