
Argieffoto
Met die Wêreldbeker-rugbytoernooi oor minder as twee maande en die Springbokke wat laaste in die pas afgelope rugby-kampioenskap geëindig het, getuig dit van rugby onkunde om te beweer dat Heyneke Meyer en die Springbokbestuur nie die beste moontlike spelers, swart of wit, sal wil gebruik nie, meen die VF Plus.
“Cosatu se rugby onkunde blyk uit hulle rassistiese opmerkings dat op ‘n berekende wyse swak wit spelers bo goeie swart spelers vir die Springbokke gekies word,” het Pieter Mulder, leier van die VF Plus, in ‘n verklaring gesê. “Die kundige rugbypubliek, wat ten alle koste wil wen, sou lankal in woede gereageer het as ‘n briljante swart speler om politieke redes uit die span gelaat was. Verder loop Suid-Afrika die risiko om van die internasionale sportkodes te oortree en gestraf te word as dit sou blyk dat politieke inmenging en nie meriete nie ‘n rol in die keuse van Suid-Afrikaanse sportspanne gespeel het.”
Mulder voeg by swart spelers wat op meriete die hoogste sport in rugby bereik deur vir die Springbokke gekies te word, het al aangedui dat hulle nie as kwotaspelers gebrandmerk wil word nie.
“As Cosatu ‘n bydrae wil maak vir die ontwikkeling van swart rugby-talent moet hulle na die talle oorwegend swart skole gaan kyk waar geen rugby as aktiwiteit aangebied word nie,” het hy gesê. “Suksesvolle swart spelers op Springbok- en provinsiale vlak kom tans hoofsaaklik van voormalige model C-skole wat tans die mees geïntegreerde skole in die land is. Meer suksesvolle swart spelers moet van onder na bo gestoot word en kan nie van bo af polities op internasionale spanne afgedwing word nie.”
Mulder voeg by om geloofwaardigheid aan hul argument te gee, moet Cosatu die name bekend maak van die sogenaamde vyf swart Springbokke wat hulle na bewering oor diskriminasie teen hulle genader het. “Dit sal die rugbypubliek in ‘n posisie stel om te oordeel of daar enige meriete in Cosatu se bewerings is.”
Hy het gesê uit Cosatu se rassistiese rugbyverklarings is dit duidelik dat slegs ‘n “all black” Suid-Afrikaanse span teen die All Blacks van Nieu Seeland hulle tevrede sal stel. So ‘n benadering is tot nadeel van meriete in sport en internasionaal, asook vir die meerderheid Suid-Afrikaanse sportliefhebbers, totaal onaanvaarbaar.