Agt polisiebeamptes van Lydenburg in Mpumalanga is Dinsdagoggend in hegtenis geneem op aanklag dat hulle glo verdagtes ontvoer en beroof het.
Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het gesê aanklagte van ontvoering, aanranding met die doel om ernstig te beseer, korrupsie, dwarsboming van die gereg en sameswering om ʼn misdaad te pleeg, is teen die beamptes aanhangig gemaak.
“Die beamptes het glo ʼn motor afgetrek en deursoek en onwettige sigarette en R510 000 kontant in die motor gevind. Die beamptes het die verdagtes glo erg aangerand en agter in die polisievangwa toegesluit,” het Mulaudzi gesê. “Hulle het na ʼn nywerheidsgebied gery, waar hulle glo R50 000 van die kontant gevat het en die res aan die eienaars gegee het. Die eienaars het geweier om die kontant te vat en het later die Valke in kennis gestel.”
Die polisieverdagtes is na bewering lede van ʼn sindikaat wat voertuie vergesel wat onwettige sigarette in Lydenburg en die omliggende areas vervoer.
Verlede week is konst. Elias Mokwana (37) in hegtenis geneem vir sy betrokkenheid by soortgelyke voorvalle. Hy sal Woensdag in die Lydenburg-landdroshof om borgtog aansoek doen. Die ander agt beamptes sou Dinsdag voor die hof verskyn.
Tydens die ondersoek is ʼn man en ʼn vrou wat glo die onwettige sigarette vervoer het, ook in hegtenis geneem. Hulle sal ook Woensdag in die beskuldigdebank wees.

