ʼn Dowe swemmer het die lewe van drie mense gered wat byna in die swembad by die Joan Harrison-kompleks in Oos-Londen verdrink het.
Michael Swartz, ʼn Dowe Spele-swemmer, was Vrydag pas klaar met ʼn uitputtende oefensessie saam met sy afrigter toe die afrigter sy aandag op die water gevestig het. Swartz was met sy rug na die swembad gedraai en dus nie bewus van die oproer agter hom nie. Toe hy omdraai, het hy iemand in die water sien spartel en het sonder om te huiwer ingespring om hom te red.
Sandy Swartz, Michael se ma, het aan Maroela Media vertel haar seun het met die man na die kant geswem. “Terwyl hy besig was om te swem, het mense vir hom gewys dat daar nog iemand in die water was. Hy het teruggeduik en ’n volwasse man en kind onder op die bodem van die swembad gesien. Die man het die seuntjie in sy arms gehad en probeer om met hom na die oppervlak te swem, maar hy kon dit nie regkry om hom na die oppervlak te bring nie. Michael het die kind om sy middel gevat en die man aan sy T-hemp en hulle na die oppervlak gebring.”
Volgens Sandy het hulle later uitgevind dat die kind, ongeveer 6 jaar oud, in die moeilikheid geraak het in die swembad. ’n Man het probeer om van die kant van die swembad af by die kind uit te kom toe een van die omstanders hom in die geroesemoes in die swembad ingestamp het. Hy kon egter ook nie swem nie en het ook na die bodem gesink, waarna ’n tweede man ingeduik het om hulle te probeer help.
Nadat die kind uit die swembad gehaal is, het Michael, wat ook ʼn opgeleide noodhulpwerker is, mond-tot-mond asemhaling op die kind toegepas en op sy bors gedruk om die water uit sy longe te kry. Die kind het uiteindelik bygekom en water opgebring.
Sandy het aan Maroela Media vertel dat een van die omstanders later vir Michael ʼn groot bedrag kontant aangebied het as beloning vir sy heldedaad. Hy het egter die beloning van die hand gewys en het gesê hy kan nie betaling aanvaar vir “God se werk” nie.
“Dis asof hy nie besef wat hy gedoen het nie. Hy is so nederig en wil nie erkenning of aandag kry hiervoor nie,” het sy gesê. “Hy het ná die tyd vir my gesê hy sou sonder twyfel sy lewe opgeoffer het om daardie mense te red. Hy het gesê sy lewe is klaar gebroke weens sy gestremdheid en hierdie mense kan vol, vervulde lewens leef, daarom sou hy eerder sy lewe opoffer om hulle te red.”
Volgens Sandy was Michael nog altyd ʼn besonder nederige persoon wat verkies om uit die kollig te bly. Sy uitsonderlike swemprestasies by die Spele vir Dowes, internasionale toekennings vir dans en SA-kleure vir perdry maak hy af as alledaags en nie as iets om ʼn bohaai dte maak nie. “Vir sy 18e verjaardag het hy verkies om nie ʼn partytjie te hou nie, maar eerder ’n 18 km-swem te reël ter fondsinsameling vir gestremdes. Hy wil altyd teruggee en vir sy medemens iets beteken,” het sy gesê.
“Weens sy gestremdheid is Michael baie alleen en het hy nie ʼn meisie of baie vriende nie. Hy het nou ʼn beweging begin waardeur gebaretaalklasse vir die publiek aangebied word om hulle sodoende in staat te stel om met die dowe-gemeenskap te kommunikeer en te betrek. Hy is waarlik ʼn ongelooflike persoon en hy verdien al die geluk wat na sy kant toe kom,” het sy gesê.