
Argieffoto
ʼn Konstabel van die Tafelsig-polisiestasie in Kaapstad is Woensdag in hegtenis geneem nadat tik en ander dwelmbybehore in haar besit gevind is.
Lt.kol. André Traut, woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, het Donderdag gesê die polisie se teenkorrupsie-eenheid het inligting opgevolg oor die 36-jarige beampte en ʼn klopjag by haar woning in Tafelsig uitgevoer.
“ʼn Klein hoeveelheid tik, dwelmbybehore en meer ammunisie as wat sy gemagtig is om aan te hou, is tydens die klopjag gevind,” het Traut gesê.
Die polisie het ook beslag gelê op ʼn amptelike polisiedatumstempel. “Die moontlikheid word ondersoek dat sy ʼn korrupte verhouding met dwelmhandelaars gehad het.”
Die vrou is in hegtenis geneem en sal na verwagting Vrydag in die hof verskyn.
Traut het gewaarsku dat die polisie nie sal huiwer om teen enige persoon op te tree wat die wet verontagsaam nie, selfs al is hy of sy ʼn polisiebeampte.