
Argieffoto
Stefan Pieterse, AfriSake se nasionale woordvoerder, meen die konsepregulasies is waarskynlik ongrondwetlik omdat talle huiseienaars, en veral lae-inkomste eienaars, dit eenvoudig nie sal kan bekostig nie – en daarom moontlik hul huise kan verloor.
Dit kom nadat Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, die voorgestelde regulasies aab die Wet op die Bestuur van Deeltitelskemas in Oktober in die staatskoerant gepubliseer het.
“Eienaars in komplekse vir lae-inkomstegroepe kan skaars die heffings betaal, wat nog van bykomende heffings? Indien daar van eienaars verwag word om skielik meer te betaal, kan dit beteken dat eienaars hul huise verloor bloot omdat hul nie hul verhoogde heffings kan betaal nie,” het Pieterse gesê.
AfriSake sal teen die einde van die week ʼn memorandum aan die minister oorhandig wat alle besware teen die voorgestelde wysigings uiteensit, en wil alle rolspelers in die deeltitelbedryf aanmoedig om dit ook te doen voor die sperdatum van 2 November 2015.
“Dit is uiters belangrik om jou interne remedies uit te put as jy later ʼn wet of regulasie se grondwetlikheid wil beveg – en dit is presies wat ons beplan,” het Pieterse afgesluit.