Thinus Herbst (28) is twee keer in die bolyf geskiet deur rowers wat by die gesin se huis in die veiligheidskompleks Parklands Estate ingebreek het. Maj. Mack Mngomezulu, woordvoerder van die polisie, het gesê die rowers het toegang tot die huis verkry deur ʼn skuifdeur oop te breek.
Mngomezulu het gesê die motief vir die moord is nie in hierdie stadium bekend nie. Hy kon nie bevestig of enigiets uit die huis gesteel is of hoeveel verdagtes by die inbraak betrokke was nie.
“’n Saak van moord word ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie,” het hy gesê.
Thinus se broer, Johan, het op sy Facebook-profiel ʼn huldeblyk aan sy broer geskryf en gesê hy het sy lewe vir sy familie opgeoffer. “Dankie Thinus vir die 28 jaar wat jy vir jou grootboet kon gee. Hierdie land se misdaad het jou van ons af weggeruk, maar jy sal altyd in ons gedagtes wees. Ons sal jou nooit vergeet nie.”
Maroela Media verneem Thinus en sy vrou, Chenelle, het ʼn babaseuntjie genaamd Dustin.