Tibor Szana, hoofinspekteur van die departement, het egter geen duidelikheid gegee oor die oorsaak van die tragedie soos verwag is nie. Szana het bloot die tydsraamwerk van die ondersoek bekendgemaak en gesê dit sal ongeveer ses maande duur voordat die bevindinge bekendgemaak sal word. “Ons het reeds met ons voorbereiding vir die formele ondersoek begin. Ons kyk na enigiets rondom ses maande in hierdie stadium,” het hy gesê.
“Mense moet in gedagte hou dat ons besig is om bewysstukke te versamel en dat daar talle partye by hierdie ondersoek betrokke is. Terwyl die ondersoek aan die gang is, sal ons vasstel hoeveel bykomende tyd nodig is.”
Twee mense is dood en meer as 20 beseer toe ʼn voetgangerbrug, wat nog in aanbou was, op 14 Oktober op die M1-snelweg ineengestort het. Ooggetuies het vroeër aangevoer die brug, naby die Graystonweg-afrit wat na Sandton lei, het ineengestort weens sterk rukwinde in die gebied.
Volgens die departement is ander partye wat by die ondersoek betrokke is die Stad Johannesburg en die Johannesburgse Ontwikkelingsagentskap, wat Royal Haskoning DHV as agent aangestel het. Die boumaatskappy Murray & Roberts is die hoofkontrakteur.
Die saak is by die Bramley-polisiestasie aanhangig gemaak en word ook deur die SAPD ondersoek.