
Foto: SAPD
Konst. Mosili Ntsika, woordvoerder van die polisie, het gesê die twee mans is laat Vrydagmiddag in hegtenis geneem tydens ʼn padblokkade op die N1 buite Bloemfontein. Volgens Ntsika het die mans in ʼn Iveco-paneelwa met Gauteng-nommerplate gery toe hulle by die padblokkade van die pad af getrek is.
Die paneelwa is deursoek en daar is op 7 500 kartonhouers onwettige sigarette beslag gelê. Die twee mans, 32 en 51 jaar oud, het glo gesê hulle vervoer die sigarette van ʼn pakhuis in Gauteng na ʼn winkel in die Oos-Kaap.
“Die mans is versoek om al die behoorlike dokumente te verskaf, maar het ʼn vervalste faktuur ten bedrae van R1 244 965,50 voorgelê,” het Ntsika gesê. “Die mans is in hegtenis geneem op aanklag van bedrog en die besit van vermoedelik gesteelde goedere.” Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.