
Argieffoto
Die nuuskommentaar wys ook daarop dat die meeste sportkodes op internasionale vlak onbuigsame reëls het wat regeringsinmenging in daardie sportsoorte verbied, en daarby ook rassisme. Fifa het verskeie lande al oor regeringsinmenging geskors, waaronder Kenia, Griekeland, Iran en Nigerië, terwyl selfs die magtige Brasilië bepaalde voorwaardes moes nakom. In die onlangse verlede moes verskeie sokkerklubs hul belangrike tuisligawedstryde voor leë pawiljoene speel weens strafmaatreëls oor rassisme onder hul ondersteuners.
Maar kom dit by Suid-Afrika is regeringsinmenging vanselfsprekend inbegrepe. Trouens, in so ’n mate dat die regering, eerder as Safa, onder die vergrootglas is oor die oënskynlik duidelike betaling van omkoopgeld aan Fifa-amptenare om die wêreldbekertoernooi vir Suid-Afrika te verseker. Met die vorige toernooi het Suid-Afrika teen Duitsland uitgeval – tot die duidelike verbasing van Suid-Afrika se verteenwoordigers – en nou aangesuiwer met bewerings oor ’n tas vol geld wat van hande verwissel het … maar toe was dit skynbaar mense van die private sektor wat met die gekonkel verbrou het.
Sedert die nuuskommentaar (byna ’n omvattend nagevorste verhandeling) van ’n jaar gelede het min verander en is dit eerder ’n geval van net nog meer van dieselfde onverkwiklikhede.
Verskeie Suid-Afrikaanse sportkodes, soos rugby en krieket, is reeds by die internasionale liggame verkla oor rassisme (kwotas) en regeringsinmenging. Die reaksie was gewoonlik soos iemand wat per ongeluk ver van die geriewe ’n bol in die broek gemaak het en nou hard probeer om die onafwendbare verleentheid te voorkom.
Aan die kern van die saak bly die vraag of kwotas en sportmangees met mekaar versoen kan word. Van Suid-Afrika se voorste swart en bruin sportlui het al heftig beswaar gemaak dat daar na hulle as kwotaspelers verwys is – tot die ontsteltenis van regeringslui.
Pas het Cosatu in die Wes-Kaap bekend gemaak dat vyf swart Springbokspelers gekla het dat hulle nie speelkans in Heyneke Meyer se toetsspan kry nie. In die verloortoets teen Argentinië (sonder 11 van hul gereelde spelers) het net een swart en een bruin speler saam met die beginspan op die veld gedraf. Vooraf is oor die algemeen verwag dat die Bokke maklik die wa deur die drif gesleep sou kry, maar dit was die naweek waartydens selfvertroue ’n duur prys betaal het. Die Wallabies het die All Blacks op hul eie eiland gaan afstof, die Pumas het die Haaie op droë grond uitgesleep, en die Cheetahs het geleer dat spelvryheid nie die noodsaaklikheid om dodelik te verdedig uitsluit nie, en dat aanslane en mamparraskoppe met ’n prys gepaardgaan.
Dan is daar nog iets soos die gemotiveerdheid van die ander span. Vra maar vir die Bokke.
Dit is byna onafwendbaar dat die kwessie van kwotas weer ná die Bokke se (tydige) loesing ter sprake sou kom. Heyneke sou weet die kwessie om slegs twee spelers van kleur in te span sou selfs ná ’n oorwinning onder skoot kom, want die ANC en sy meelopers se rasbenepe standpunt hieroor het immers nie verander nie. Lippediens aan “transformasie” voorkom nie dat die telraam met sy wit, bruin en swart balletjies deurlopend ingespan word nie, en die Proteas se krieketspan weet van die vergrootglas op hom. Daar was al ’n paar storms hieroor, veral ná ’n verloorslag. Ontkennings en bevestiging van inmenging in die kies van spanne vlieg rond.
Enige regering wat sy sout werd is, weet dat sportprestasies van sy burgers tot ’n nasionale trots bydra, wat veral vir lande met ’n heterogene samestelling van groot belang is. In Suid-Afrika het dit selfs ’n amptelike naam, nasiebou, maar word op haas elke ander terrein deur die regering gesaboteer, veral deur rasbenepenheid in die ekonomie en die gevolglike strooptogte op werksgeleenthede.
Ook wil die Bafana Bafana nie “regkom” nie, en kuier maar algaande agteruit op die internasionale ranglys. Ironies genoeg is van die Karibiese lande wat moes baat vind by die $10 miljoen wat Suid-Afrika betaal het vir diaspora-gemeenskappe se sokkerontwikkeling in die Karibiese Seegebied nou hoër as Suid-Afrika se posisie op die ranglys – en dit sonder ’n sweempie van ’n aanduiding dat ’n duit van daardie geld wel vir sokkerontwikkeling aangewend is.
Ook net meer as ’n jaar gelede skryf AfriForum soos volg in ’n nuusverklaring: “AfriForum het sy regspan opdrag gegee om voorbereidings te tref om ’n amptelike klag teen die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) se rassekwotabeleid by die Internasionale Rugbyraad (IRR) in te dien en ondersoek in te stel na die moontlikheid om ook ’n saak daarteen te voer by die internasionale hof vir sportarbitrasie. AfriForum se reaksie volg op die nuus dat Saru se president, Oregan Hoskins, pas aan die Springbok-afrigter, Heyneke Meyer, opdrag gegee het dat ras voortaan ’n groter rol in die samestelling van die Springbokspan moet speel. Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, verbied die IRR se reëls uitdruklik enige vorm van rassediskriminasie en politieke inmenging in rugby.”
Sedertdien was AfriForum gereeld in die nuus oor sy planne van internasionalisering van die regering se rasbeheptheid. Die rasbeheptheid blyk uit die fyn detail van kwotas wat soms op die tafel beland – in ’n stadium 50 persent “swart” deelname (wat bruin en Indiër insluit) maar 66 persent van die “swart” moet “etnies swart” wees.
In Bloemfontein was daar die afgelope winter vrae oor hoe dit gebeur dat die Hoërskool Sentraal, wat op die rugbyveld maklik met die Hoër Tegniese Skool Louis Botha afgereken het, Aspoestertjie-behandeling van die keurders gekry het toe die Cravenweekspan aangekondig is. Die rede was eenvoudig dat HTS Louis Botha wesenlik ’n swart skool is, en dat ’n rassekwota vir die Cravenweekspanne geld. Die Vrystaatse span, wat ’n trotse rekord op die Cravenweek het (of moet ʼn mens nou aanvaar dit moet die Mbalula-week heet?) het nie waffers gevaar nie.
Krieketspanne kry ook al strenger raskwota-voorskrifte.
Die vreemdheid is dat hierdie sportsoorte wat die regering so graag vol swart spelers wil sien, inderdaad van die SABC-kanale verdring word. En die SABC sou immers ’n belangrike werktuig kon wees om dié sportsoorte onder die agtergeblewe gemeenskappe te bevorder. Op hierdie kanale word egter baie aandag gegee aan rykmansportsoorte soos gholf en swem (waar [wit] Suid-Afrikaners gereeld presteer) terwyl rugby, krieket en atletiek feitlik die domein van betaal-TV geword het, en buite die bereik is van die gemeenskappe onder wie die sportsoorte bemark moet word.
Soos in die ekonomie, werk kwota-“kortpaaie” soos Langenhoven se goedkoop is duur koop. Net die rykes kan dit bekostig, want ’n vragmotortjie wat iewers goedkoop opgeraap is, kos ’n fortuin om aan die loop te kry en dan aan die loop te hou. En in Langenhoven se geval kon selfs die voorhamer en koevoet wat einde ten laaste ingespan is, nie die lorrie aan die loop kry nie.
En die regering kan maar gerus bietjie kers by Langenhoven gaan opsteek.