Maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê Bradley Pillay (32), Damien Shunmugan (19) en Deon Govender (35) is skuldig bevind aan die moord van ʼn 48-jarige motoris. Hy het nie die naam van die oorledene bekendgemaak nie.
Pillay, Shunmugan en Govender was op 28 Desember 2013 by ʼn partytjie in Phoenix toe die oorledene per ongeluk teen hul motor gebots het. Die drie het die man uit sy motor gepluk en erg aangerand. “Twee polisievoertuie wat verbygery het, het gesien wat gebeur en tussenbeide getree. Polisieversterking is ook ingeroep,” het Zwane gesê. Die motoris was egter reeds dood.
Die drie is onmiddellik in hegtenis geneem en aangekla van moord. Die Verulam-landdroshof het Pillay tot 20 jaar tronkstraf gevonnis en sy medebeskuldigdes tot 18 jaar tronkstraf elk.