Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) het aan die parlement gesê Eskom verteenwoordig die perfekte voorbeeld van staatskaping en dat die geestelikes ʼn omstrede kernkragaanleg ter waarde van R1 biljoen (“trillion”) teenstaan.
Biskop Malusi Mpumlwana, algemene sekretaris van SARK, het gesê staatskaping is ʼn goed ontwerpte plan om bates van die staat te stroop deur ʼn korrupte kliek wat besig is om staatsbeheerde ondernemings laat verswak.
Mpumlwana het met LP’s van die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings vergadering oor die inhoud van die SARK se eie verslag wat wys hoe pres. Jacob Zuma, sommige kabinetministers en beamptes van staatsbeheerde ondernemings na bewering die plundery gefasiliteer het tot voordeel van Zuma se seun Duduzane en die Gupta-familie.
“Eskom is die perfekte voorbeeld van staatskaping. [Voormalige uitvoerende hoof van Eskom] Brian Molefe en [hoof finansiële beampte van Eskom] Anoj Singh is albei vanaf Transnet herontplooi,” het Mpumlwana gesê. “Dit is duidelik dat daar ʼn mafia-agtige beheer van staatsbeheerde ondernemings is deur ʼn elite wat draai om die president, en die bates van die staat word sistematies geplunder en enige moontlike doeltreffende manier van wetstoepassing word afgestomp.
“Dit is duidelik dat die probleem groter is as korrupsie. Dit is ʼn grootskaalse ontwerp vir die mafia-agtige beheer van openbare ondernemings en ander beduidende regeringsagentskappe en staatsliggame.”
Mpumlwana het gesê hul verslag het begin toe die SARK se nasionale konferensie ʼn “Unburdening Panel Process” in April 2016 begin het vir enigiemand wat wou bely hoe hulle deur hoëprofielpersone onder druk geplaas is om korrup te wees in ruil vir ʼn bevordering, ʼn aantreklike posisie of geld of enige ander guns.
“Ons het inderdaad ʼn aantal beamptes gehad wat onder druk geplaas is om onbehoorlik fondse aan te wend vir sekere aktiwiteite wat niks te doen het met die werk en doel van die begroting nie,” het Mpumlwana verduidelik. “Daar is persone wat onder druk geplaas is om tenderprosesse te ontwrig ten gunste van sekere maatskappye en individue, of om reëls te buig vir ʼn spesifieke uitslag.”
Hy het gesê die verrotting in staatskaping is groter as Eskom en dit is selfs op provinsiale en plaaslikeregeringsvlak.
“Die verrotting is groter as staatsbeheerde ondernemings en ander staatsliggame. Dit het ʼn kankeragtige uitwerking. Diegene wat die Grondwet wil onderhou, word uitgeskuif. Ervare en toegewyde professionele persone word uitgeroei en vervang deur diegene wat nie in die belang van die land optree nie.
“Daar word baie gefokus daarop om onthullings oor dit wat op ʼn nasionale vlak gebeur, te ontwrig met kleurvolle e-posse wat die openbare belang aanwakker, maar ons weet daar gebeur baie meer op ʼn plaaslike en provinsiale vlak.”