ʼn Man en vrou van Utah in die VSA is in hegtenis geneem nadat hulle glo enkele ure ná die geboorte van hul baba vir haar ʼn middel ingegee het om haar heroïenverslawing te probeer verdoesel.
Volgens polisieowerhede is Colby Glen Wilde (29) en sy vrou, Lacey Dawn Christenson (26), in hegtenis geneem omdat hulle albei dwelms gebruik het tydens haar swangerskap.
Sers. Spencer Cannon, ʼn polisiewoordvoerder, het gesê die baba het vermoedelik reeds in die baarmoeder aan dwelms verslaaf geraak omdat Christenson onder meer heroïen en sterk pynmedikasie tydens haar swangerskap gebruik het.
Die ouers het aan die polisie erken dat hulle ná hul dogter se geboorte vir haar Suboxone gegee het. Hulle het die pil glo fyngemaak en aan die baba se tandvleis gesmeer om die baba se dwelmverslawing te verdoesel.
Volgens Cannon het die polisie Wilde en Christenson verlede maand in hegtenis geneem ná Wilde items uit ʼn winkel gesteel en dit by die toonbank teruggegee het vir kontant. Toe die veiligheidsbeamptes hom agternasit, het hy sy baba glo herhaaldelik laat val. Hy én Christenson, wat glo saam met hom in die winkel was, is later in hegtenis geneem op aanklag van diefstal, dronkbestuur en die besit van dwelms.
Drie jong seuns, van wie een seun uit ʼn vorige verhouding, is ook tydens ʼn besoek by die paartjie se huis uit hul sorg verwyder en in die toesig van die oudste seun se pa geplaas. Volgens die owerhede het die twee jongste seuns, tesame met die pasgebore baba, positief getoets vir heroïen en morfien. Die pa van die oudste seun se voogskapaansoek is toegestaan omdat hy “nie die kinders van mekaar wou skei nie”.
Wilde én Christenson is steeds in aanhouding.