ʼn Man in sy 20’s is Sondag beseer toe hy deur ʼn wegholsleepwa met ʼn boot daarop langs ʼn pad in die Wes-Kaap getref is.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die voorval het in Tygervalleiweg in Richwood plaasgevind.
“Die sleepwa het na bewering van die bakkie wat dit gesleep het losgekom. Die sleepwa was buite beheer en het die pad verlaat. Die jong man het langs die pad gestap en is getref en omgestamp,” het Meiring gesê.
Paramedici van ER24 en Life Healthcare is na die toneel ontbied. “Die man het langs die pad gelê toe paramedici daar opdaag. Die sleepwa met die boot daarop het ʼn kort afstand van hom af stilgestaan.”
Die man het beserings aan sy arm opgedoen. Hy is op die toneel behandel en pynmedikasie toegedien.
Die man is na die Karl Bremer-hospitaal geneem vir verdere behandeling.