MTN het ʼn waarskuwing aan al sy kliënte gerig om versigtig te wees vir ʼn slenter wat die ronde doen.
“In die slenter word kliënte deur ʼn sogenaamde MTN-dienssentrumagent gebel. Die ‘agent’ versoek die kliënt se sekuriteitsbesonderhede onder die voorwendsel dat hulle ʼn SIM-omruiling wil keer wat besig is om plaas te vind sonder die kliënt se medewete of goedkeuring,” het Bridget Bhengu, MTN se woordvoerder, gesê.
“Die bedrieërs sal dan die inligting wat hulle gedurende die oproep verkry het gebruik om ʼn onwettige SIM-omruiling te doen.”
Bhengu het gesê dit is belangrik vir kliënte om te weet dat MTN hulle nie sal skakel om die proses van ʼn SIM-omruiling stop te sit nie.
“In ons voortgesette pogings om bedrog te bestry, moedig ons ons kliënte aan om nie op ongevraagde oproepe te reageer nie en geensins hul sekuriteitsbesonderhede aan onbekende mense verskaf nie.”