ʼn Man (31) is in hegtenis geneem nadat hy glo sy 57-jarige ma in Pretoria vermoor het.
“Die man het Woensdag kort voor middernag by die Sunnyside-polisiekantoor ingestap en aan beamptes gesê hy is deur ʼn bose gees beveel om sy ma dood te maak,” het kapt. Daniel Mavimbela aan Maroela Media gesê.
Mavimbela het gesê die polisie het gaan ondersoek instel en op ʼn grutoneel by die man se woonstel in Sunnyside afgekom.
“Hulle het die verdagte se ma in ʼn plas van haar eie bloed sien lê. Die vrou is vermoedelik dood nadat sy verskeie kere met ʼn mes gesteek is.”
Die polisie het ʼn mes op die toneel gevind en daarop beslag gelê.
Die verdagte is in hegtenis geneem en moet binnekort in die Pretoria-landdroshof verskyn op aanklag van moord.
Volgens Mavimbela sal die polisiekantoor se werknemersgesondheids- en welsynseenheid berading aan die beamptes bied wat na die toneel is, sodat hulle die skok daarvan so gou as moontlik kan verwerk.