’n Visvanguitstappie het tragies geëindig vir twee matriekleerders aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp.
Raymond Olivier en Cornel Bekker, albei 18 jaar oud, is Woensdag dood nadat ʼn gasverwarmer in hul tent vermoedelik gelek het of ʼn tekort aan suurstof veroorsaak het.
Constance Strydom, bemarkingsbestuurder van die Hoërskool Monument, het aan Maroela Media gesê die twee matriekseuns het Dinsdag by ’n kampeer- en visvangplek buite Krugersdorp aangekom. “Volgens die inligting wat ons het, het hulle deur die nag visgevang. Hulle het toe glo 05:00 Woensdagoggend in hul tent gaan slaap en die gasverwarmer aangesit aangesien dit baie koud was.”
Volgens Strydom het ’n werker omstreeks 16:00 snaakse geluide uit die tent gehoor en ’n bestuurder in kennis gestel. “Met die bestuurder se aankoms by die tent was een van die seuns reeds dood. Daar is onmiddellik met noodbehandeling op die ander seun begin, maar hy is kort daarna dood verklaar.”
Strydom het gesê ’n roudiens sal vir die twee leerders gehou word nadat die skool volgende week heropen het. “Cornel en Raymond sal onthou word vir die dierbare en geliefde seuns wat hulle was. Hul afsterwe los ’n leemte in ons hart, maar ons is ook dankbaar dat ons die voorreg gehad het om hulle te kon leer ken.”
Die skool het hul innige simpatie betuig met die seuns se ouers, familie en vriende. Bekker het op die skool se matriekraad gedien.