Agt mense is in twee afsonderlike botsings in Mpumalanga dood.
Joseph Mabuza, woordvoerder van Pat Ngomane, die LUR vir gemeenskapsveiligheid in die provinsie, het Woensdag gesê die eerste ongeluk het Dinsdag om 14:30 op die N4 tussen Komatipoort en Hectorspruit plaasgevind.
“ʼn Swaarvoertuig en ʼn sportnutsvoertuig het mekaar reg van voor getref. Drie insittendes van die sportnutsvoertuig is op die toneel dood. Een persoon moes met ʼn helikopter na ʼn hospitaal geneem word en ʼn vyfde persoon is in ʼn ernstige toestand met ʼn ambulans na ʼn hospitaal geneem.”
Die tweede ongeluk het Woensdag omstreeks 11:15 op die R536 tussen Mkhuhlu en die Krugerwildtuin plaasgevind.
“Vyf mense is dood toe ʼn minibustaxi met ʼn konstruksievoertuig gebots het. Een van die oorledenes sluit ʼn vier maande oue baba in. Twee mense is kritiek beseer, twee ernstig en vyf het geringe beserings opgedoen. Hulle is op die toneel behandel en na nabygeleë hospitale geneem.”
Ngomane het sy innige meegevoel met die oorledenes se familie betuig.
Hy het gesê die aard van die botsing dui op die nalatigheid van sommige motoriste. “Die meeste botsings word veroorsaak deur swak besluite wat deur bestuurders gemaak word wat ongeduldig en ongehoorsaam is.”
Volgens Ngomane kan 99% van die ongelukke verhoed word as motoriste hul houdings teenoor ander motoriste verander wanneer hulle agter die stuurwiel inklim.
