Die DA het Dinsdag bevestig dat die omstrede Britse skakelmaatskappy Bell Pottinger in Augustus voor ʼn dissiplinêre verhoor moet verskyn om te antwoord op dié party se klagtes dat die maatskappy rassespanning in Suid-Afrika aangewakker het.
Phumzile van Damme, die DA se skaduminister van kommunikasie, het die Openbare Betrekkinge en Kommunikasievereniging (PRCA), die bedryfsliggaam wat dié Britse industrie reguleer, se besluit om die dissiplinêre verhoor in te stel om die gedrag van die maatskappy te ondersoek, verwelkom.
Die verhoor sal volgens beplanning op Vrydag 18 Augustus in Londen begin. Beide die DA en Bell Pottinger moet nou binne tien werksdae ʼn opsomming van hul vertoë en afskrifte van dokumente wat as bewyse moet dien aan die PRCA verskaf vir hersiening.
Intussen het verskeie burgerlike organisasies aangedui dat hulle ook graag voorleggings vir die verhoor sal wil doen. Die Helen Suzman Stigting, Section 27 en Save SA het versoek om deel van die ondersoek na die maatskappy se werksaamhede te wees om te verseker dat hul optrede in ʼn Suid-Afrikaanse konteks beskou word.
Bell Pottinger het vroeër die maand om verskoning gevra ná dit uit die #GuptaLeaks-ondersoeke geblyk het dat die beeldpoetser ʼn anti-wit mediaveldtog gedryf het. Die maatskappy het onder meer ook die mite rondom “witmonopoliekapitaal” geskep. Verder het dit ook uitgekom dat hulle glo gehelp het om ANC-politici se toesprake te skryf waarin daar verwys is na die moontlikheid van ʼn komende burgeroorlog.
James Henderson, die uitvoerende hoof van Bell Pottinger, het op 6 Julie ʼn amptelike verskoning uitgereik ná die DA ʼn klag teen die maatskappy se werksaamhede by die PRCA gelê het. Bell Pottinger het self ook ʼn prokureursfirma aangestel om die Gupta-rekening en die werk wat hulle vir die familie se sakeondernemings in Suid-Afrika gedoen het, volledig te hersien.
Henderson het verder gesê hul maatskappy het hul rekening met die Guptas se Oakbay Investments gekanselleer, terwyl ʼn vennoot en twee werknemers geskors is sodat hul presiese rol in die gebeure bepaal kan word.
“Ons het dadelik opgetree nadat ons in kennis gestel is dat Bell Pottinger mislei is en dat daar werk gedoen is wat buite die kern van ons etiese beleid val,” het Henderson gesê.
Die verskoning het egter ʼn storm ontketen waarin verskeie Suid-Afrikaners dit as net nog ʼn beeldpoetsaksie van die maatskappy afgemaak het. Verskeie politieke partye, soos die VF Plus en die SAKP het ook die maatskappy se verskoning verwerp.
“Bell Pottinger het ʼn propagandaveldtog namens die Guptas en die Zumas geskep en gedryf. Dit het haat en verdeeldheid gesaai in ʼn land wat daagliks steeds sukkel om sy eie pynlike verlede te verwerk.
“Die DA verwelkom die verhoor, want dit is ons plig om op te staan teen diegene wat Suid-Afrika wil verdeel. Ons sal ook verder gaan om te eis dat Bell Pottinger alle inligting rondom die Gupta-rekening openbaar moet maak, en sal sorg dat die geld wat die maatskappy uit die rekening gemaak het, weer aan Suid-Afrika terugbetaal word.
“Ons sien daarna uit om ons vertoë tydens die verhoor te lewer sodat ons kan verseker Bell Pottinger word vir hul optrede aanspreeklik gehou,” het Van Damme gesê.