Die vonnisoplegging van ʼn bekende kerkleier van Port Elizabeth, wat skuldig bevind is op korrupsieaanklagte van R3 miljoen, is Dinsdag in die handelsmisdaadhof in Port Elizabeth uitgestel.
Biskop Samuel Banzana is vroeër skuldig bevind dat hy omkoopgeld van ʼn konstruksiemaatskappy aanvaar het om tenders aan die maatskappy toe te ken om honderde lae koste HOP-huise te bou.
Tom Langenhoven, vir Banzana, het Dinsdag aangevoer sy kliënt is die primêre versorger van sy twee kinders, waarvan een ʼn minderjarige is.
Langenhoven het die hof uitstel versoek sodat ʼn proefbeampte ondersoek kan instel en ʼn verslag saam kan stel oor die bydraes in die Bazana-huishouding.
Staatsaanklaer Ronelle Brink het aangevoer die minderjarige kind het verskeie versorgers en dat dit nie ʼn verskil maak indien Banzana nie meer beskikbaar sou wees om ʼn bydrae te maak nie.
Banzana is in Maart skuldig bevind op vier aanklagte van korrupsie ter waarde van R3 miljoen.
Banzana was ten tyde van die misdade, tussen 2004 en 2009, die bestuurder van die Mzingisi-ontwikkelingstrust, wat deur ANC-veteraan Govan Mbeki op die been gebring is. Die trust bou HOP-huise in behoeftige gebiede, insluitend Soweto on Sea, Veeplaas, Westview en Bethelsdorp.
Die batebeslagleggingseenheid het intussen beslag gelê op Banzana se huis en drie luukse motors, ter waarde van R2,9 miljoen. Die verlies van R378 000 moet nog gedek word. Die afgetrede biskop bly tans by sy skoonouers.
Die saak is tot 14 September uitgestel vir die proefbeampte se verslag.