Mandela’s last years – ʼn splinternuwe boek oor die lewe van oudpresident Nelson Mandela wat Dinsdag op Mandela-dag die lig gesien het – werp lig op kwessies van sy laaste jare soos sy gesondheid en gebeure gedurende die maande voor sy dood.
Dié boek, geskryf deur dr. Vejay Ramlakan wat aan die hoof van Mandela se mediese span was, gee ook ’n blik oor aangeleenthede in die binnekamer van die oudpresident.
Mandela’s last years vertel die storie soos Ramlakan dit eerstehands as deel van sy mediese span beleef het. Die boek dokumenteer die komplekse mediese uitdagings waaronder hy gebuk gegaan het, die interaksies tussen familielede en personeel, die voortdurende kritiek van die media en die aksies en reaksies van Mandela.
Ramlakan skryf in die boek oor voorvalle wat nog nie voorheen in die media was nie.
8 Junie 2013 – Die ambulans wat Madiba vervoer het, slaan aan die brand
Ramlakan skryf oor ʼn voorval op 8 Junie 2013 toe Mandela na die Mediclinic Hart-hospitaal in Pretoria per ambulans vervoer moes word. Volgens hom het ʼn militêre ambulans die oudpresident na dié hospitaal vervoer nadat dr. Steve Komati, ʼn dokter wat Mandela ook versorg het, hom met die nuus gebel het dat hy dringend na ʼn hospitaal gehaas moet word.
Ramlakan skets ʼn prentjie van die ambulans wat aan die brand geslaan het op pad na die Mediclinic Hart-hospitaal.
“Die bestuurder van die ambulans het sowat 20 km van die huis af aan Komati gesê: ‘Meneer, ons verloor krag.’
‘Verloor krag? Hoe bedoel jy julle verloor krag?’ het Komati half vererg gevra.
Die revolusies van die enjin was skrikwekkend laag, en ʼn swart wolk rook het om die ambulans gehang soos die voertuig tot stilstand gekom het in die vinnige baan op die snelweg.
Ek en Tipping [die spesialis in geriatriese medisyne] het teen ʼn hoë spoed gery toe ek hom hoor sê dat dit lyk of daar ʼn probleem voor in die pad is.
Ek het my oë weggedraai van die deel van die pad wat deur my motor se ligte verlig is en ’n voertuig gesien wat lyk of dit aan die brand is.
‘Ek hoop nie dis ons ambulans nie,’ het Tipping skertsend gesê. Hy het groot geskrik toe ons verbyjaag. ‘Dis ons mense!’ het hy gesê.
‘Is jy seker?’
‘Byna positief.’
Ek het aan die linkerkantse noodbaan stilgehou. ‘Kan jy seker maak?’
Tipping was reeds uit die kar soos ek die vraag gevra het. Hy was binne enkele sekondes terug. ‘Dis ons mense! Dis ons mense.’
Dit was aaklig. Madiba in ʼn brandende ambulans…”
5 Desember 2013 – Mandela sterf
“Nabye familie en die oudstes van die stam uit die Oos-Kaap het hom ook besoek. Toe Mandla Mandela in die kamer was, het Madiba sy oë oopgemaak – hy het sy kleinseun herken. Toe het hy weer sy oë gesluit en verder geslaap.
Dit was donker en ʼn groot hartseer het die huis omhul.
Die hele familie en nie-mediese personeel was in die kamer wat gevul was met ʼn diep hartseer. Madiba het nog nooit so siek vir hulle gelyk nie.
Die mediese personeel wat aan diens was, was almal somber. Daar was niks om te doen behalwe die protokolle wat Madiba die afgelope ses maande lewendig gehou het nie. Ten spyte van al die mediese kundigheid beskikbaar, kon niks meer gedoen word nie…”
…
“Hoewel sy asemhaling laag was en sy bloeddruk bly val het, was sy uitdrukking een van bosintuiglike vrede.
Behalwe die mediese span by Madiba se bed, was daar nou net Winnie Madikizela-Mandela. Sy was geklee in swart, haar oë was rooi en sy het roerloos aan sy sy gesit.
Toe die alarms van die ventilator afgaan, het Komati die masjien aangepas sodat daar geen harde geluide was nie.
In ʼn stil stem het ek gehoor hoe Winnie Madikizela-Mandela sê: ‘Dokter, hy snak na sy asem.’ Nie ek of Komati kon direk vir haar kyk nie.
Ek het na my horlosie gekyk. Dit was 21:48. Ek het toe na mev. Madikizela-Mandela gekyk en gesê: ‘Mama, hy het gesterf.’”
Mandela’s last years word uitgegee deur Penguin Random House. Die boek kos R230. Vir meer inligting, besoek Penguin se webwerf.