Kapt. Sandra Janse van Rensburg, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê Martin Stevens (47) het hom Maandagoggend in die teenwoordigheid van sy prokureur by die Mount Road-polisiestasie oorgegee. Die polisie was sedert Woensdag na Stevens op soek nadat sy vrou, Anne-Marie, in haar motor voor haar huis met ʼn mes gesteek is. Sy is in ʼn kritieke toestand na die hospitaal gehaas.
Janse van Rensburg het gesê Stevens sal na verwagting Dinsdag in die hof verskyn op aanklag van poging tot moord.
Die egpaar was glo op ʼn slegte voet en aan’t skei toe die voorval plaasgevind het. Anne-Marie is Stevens se tweede vrou.
Volgens Janse van Rensburg is Stevens se eerste vrou dood nadat hy haar en ʼn vriend in 2000 geskiet het. Hy het daarna homself geskiet, maar dit oorleef. Stevens is destyds vrygespreek nadat die hof bevind het dat hy ʼn sielkundige ineenstorting gehad het.