Manelisi Wolela, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, het Dinsdag in die vroeë oggendure bevestig die Paralimpiese atleet is Maandagaand vrygelaat. “Die plaaslike bestuur van die Kgosi Mampuru II-gevangenis het Pistorius onder korrektiewe toesig vrygelaat. Die hantering van die plasing is ʼn operasionele aangeleentheid van die plaaslike bestuur en hoe hulle dit hanteer, is hul volste reg,” het hy gesê.
“Hulle hanteer die saak in die beste belange van al die partye betrokke, die slagoffers, die oortreder en die departement van korrektiewe dienste.”
ʼn Reuse groep joernaliste en fotograwe sou na verwagting Dinsdag buite die gevangenis saamgedrom het in afwagting op die atleet se vrylating.
Pistorius se vrylating volg ná ʼn uitgerekte paroolproses waartydens die oorspronklike besluit om hom vry te laat, aanvanklik teruggetrek is. Hy sou aanvanklik op 21 Augustus onder korrektiewe toesig vrygelaat word. Die besluit is egter op die laaste nippertjie teruggetrek, toe Michael Masutha, minister van korrektiewe dienste, die besluit na die paroolhersieningsraad terugverwys het.
Pistorius is skuldig bevind aan strafbare manslag en tot vyf jaar tronkstraf gevonnis nadat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, in die vroeë oggendure van Valentynsdag 2013 doodgeskiet het. Hy was ʼn jaar lank agter tralies. Sy parool sal tot 2019 voortduur.