Só het ʼn verslae Anne O’Neill-Hoffman Maandag aan Maroela Media gesê nadat haar dogter, Lindie Bosch-Jansen (35), die naweek op die terrein van Laerskool Warmbad doodgesteek is. Bosch-Jansen was Saterdagaand saam met haar vriend, Howard Holtzhausen, en haar twee kinders, Jay-Bee (10) en Juvan (7), by Howard se pa, ook genaamd Howard, se 60ste verjaarsdag.
Bosch-Jansen het kort ná middernag goed na haar motor gedra nadat hulle begin opruim het. ʼn Man het uit die bosse gestorm en haar in haar sy gesteek. O’Neill-Hoffman het gesê Jay-Bee, Juvan en Howard se vyfjarige dogtertjie, Meghan, het die aanval gesien. Holtzhausen het met Bosch-Jansen na die hospitaal gejaag, maar sy is kort daarna dood.
O’Neill-Hoffman het gesê sy het net voor 01:00 die oproep gekry dat haar dogter oorlede is. “Dit voel so onwerklik, asof jy droom. Ek mis haar verskriklik. Ek kan nie beskryf hoe seer dit is om ʼn kind aan die dood af te staan nie,” het sy emosioneel gesê. “Jay-Bee en Juvan is by my totdat hulle pa terug is. Hy is op pad terug van oorsee af,” het O’Neill-Hoffman gesê.
“Die kinders is verskriklik getraumatiseerd. Ek het gisteraand tussen hulle twee geslaap. Hulle was heelnag so onrustig en het geruk en opgespring. Dit is verskriklik dat hulle moes sien hoe hulle ma doodgemaak word.” Sy het gesê die kinders sal beslis berading ontvang om die voorval te verwerk. “Ek probeer verduidelik wat gebeur het en dat hulle nou by hulle pappa gaan bly, maar hulle vat dit glad nie goed nie.”
Sy het gesê die familie het nog geen begrafnisreëlings gefinaliseer nie, maar beplan om Vrydag ʼn gedenkdiens in die plaaslike AGS-kerk te hou. “Sedert haar dood stroom die oproepe in. Selfs mense wat ons nie eens ken nie, bel om te sê hoe ’n ongelooflike mens Lindie was en watter invloed sy op hul lewe gehad het,” het sy gesê.
“Sy het ʼn borrelende persoonlikheid gehad en was ʼn liefdevolle omgeemens wat diep spore in die gemeenskap getrap het. Sy was my spogkind en ek was 35 jaar lank bevoorreg om haar aan my sy te hê.”
Holtzhauzen het op sy Facebook-blad ’n boodskap ter herinnering aan Bosch-Jansen geskryf: “My liefie, ons gaan jou baie, baie mis. Dankie dat die Liewe Vader jou vir ons vir so ʼn klein tydjie geleen het. Jy was my alles. Ek sal jou altyd liefhê. Tot ek jou weer sien. Love you lots.”
Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê ‘n verdagte is kort na die moord in hegtenis geneem. Hy sal binnekort in die plaaslike landdroshof verskyn op ‘n aanklag van moord.