Opmerking: Onlangs het ’n Maroela Media-leser in ’n leserskommentaar gekla oor die skakels in die nuuskommentaar na berigte en rubrieke op Netwerk 24. Sulke skakels word so spaarsamig moontlik aangewend juis omdat nie almal onbeperkte toegang daartoe het nie. Maroela Media kan egter nie sy lesers isoleer van belangrike openbare debatte wat elders afspeel nie, en hierdie nuuskommentaar sou daarsonder nie moontlik gewees het nie.
Presies hoe noodsaaklik die Helpmekaarplan (Plan B) ter waarde van R3,5 miljard oor vyf jaar van die Solidariteit Beweging geword het, blyk uit die ongelyke aard van die debat wat diegene wat Plan A voorstaan, probeer voer.
Teen dié tyd weet die meeste mense wat Plan B behels, al is dit net in breë trekke dat die Afrikaner hand in eie mou steek om te keer dat die lewensomstandighede en regte van die Afrikaner verder gesloop word, maar dit nie volledig eksklusief doen nie.
Maar wat is Plan A? Die naweek het Netwerk 24 dieselfde artikel van dr. Christo van Rheede twee keer geplaas waarin hy voorbrand vir Plan A maak. Die opskrifte is onderskeidelik Plan A is Suid-Afrika se wenplan! en Mense gee te gou moed op met Plan A.
Van Rheede is nou adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA, en voorheen uitvoerende hoof van die AHI. Hy is dus geen liggewig nie. Hoewel nie so aangedui nie, het hy waarskynlik die artikel in sy eie hoedanigheid geskryf.
Volgens Van Rheede is plan A die produk van die Kemptonparkse onderhandelinge wat in ’n nuwe Grondwet gemanifesteer het. Plan A is dus ’n vergestalting van die Grondwet. Hy gee toe dat alles nie voor die wind verloop nie, onder meer, en dalk veral weens die regering se benepenheid met ras en rasseklassifikasie.
Ten slotte vra hy dat almal “hande (vat) in dié verband as mede-Afrikane en Suid-Afrikaners en ons verantwoordelikheid uitoefen om ’n einde te bring aan rasseklassifisering en rassediskriminasie. Dit sal die realisering van die visie vervat in plan A voorwaar verseker”.
Van Rheede maak dieselfde fout as baie ander wat die hoofstroompolitiek, wat dié van die ANC insluit, as die enigste of selfs die korrekte vertolking van die Grondwet beskou. Dit kom neer op ’n beskouing dat minderheidsregte eintlik bloot die produk van ’n versameling mense is wat hul individuele regte (onderhewig aan die meerderheid) uitoefen. Dat taal- en kulturele minderheidsgroepe bepaalde regte, ook in terme van die Grondwet het, word misgekyk of ergerlik weggeveeg. Dit word as ’n vyand van transformasie beskou (wat nié in die Grondwet staan nie).
Maar maak dit Plan B dan ongrondwetlik, of selfs net onwettig?
Dr. Theuns Eloff, voorsitter van die FW de Klerkstigting, wat die Sentrum vir Grondwetlike Regte insluit, skryf ook op Netwerk 24 onder die opskrif, Plan B se kritici bly in Kammaland, onder meer: “Daar is niks ongrondwetliks aan die plan nie.” Eloff maak dit duidelik dat hy nie bloot ʼn naprater van Solidariteit is nie.
Dit sal interessant wees om Plan A en Plan B elk aan die Grondwet te gaan meet en by elk die raakvlakke met die Grondwet “af te tiek”. Dit is moeilik om te sien hoe Plan A hier Plan B kan uitstof.
Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, skryf op sy beurt onder meer onder die opskrif Dis lomp maar dit bring vir talle hoop: “Frustrasie met die feit dat: (a) Solidariteit nie eksplisiet bruin mense betrek het nie; of dat (b) bruin Afrikaanses nie self so ’n inisiatief begin nie; of dat (c) mobilisasie op ‘etniese’ grondslag vyandigheid jeens Afrikaners in die hand kan werk, maak die plan nie ongeldig, onnodig of onwettig nie.”
Pelser raak hier ’n belangrike kwessie aan … die posisie van bruin Afrikaanssprekendes. Anders as wat Pelser dit stel, het die bruin gemeenskap, of ’n groot deel daarvan, wel met ’n inisiatief begin, bekend as die Bruin Belangebeweging (BBB), ook bekend as die Bruin Belange-inisiatief (BBI). Op 1 Julie 2008 skryf Philda Essop in Die Burger soos volg hieroor:
’n Nuwe beweging wat die belange van bruin mense wil bevorder, word oor drie weke op ’n konferensie in Rawsonville by die ATKV-oord, Goudini Spa, in die Wes-Kaap bekend gestel.
Dr. Danny Titus, hoof van die ATKV, is nou betrokke by die beweging. Hy het gister gesê die doel van die Bruin Belange-inisiatief is gemeenskapsbou en om te bewys dat bruin mense gesamentlik ’n verskil kan maak.
Hy het beklemtoon dat dié beweging nie ’n politieke party is nie en vir “niemand gaan stemme werf” nie.
“As ons dit gaan doen, gaan mense mekaar vinnig in die rug steek en die gemeenskap net verder verdeel.”
Volgens hom streef die beweging nierassigheid na, maar op pad na dié ideaal is daar ’n paar spesifieke kwessies in die bruin gemeenskap – identiteit, onderwys en sake-geleenthede – waaraan aandag gegee moet word.
Oor identiteit sê Titus dit is belangrik dat bruin mense besef hulle hoef nie verskoning te maak vir wie hulle is nie.
“Ons moet gemaklik wees met wie ons is. Ons moet regop stap, die slagoffermentaliteit teenwerk en besef daar is baie geleenthede vir bruin mense.”
Titus glo dit is belangrik dat die sosiaal-ekonomiese probleme van bruin gemeenskappe gekoördineerd – maar nie op ’n massiewe skaal nie – aangepak word.
Die slaagsyfers móét verhoog word. Bruin mense in posisies op alle vlakke, in die sakewêreld, in staatsdepartemente of die onderwys, kan hul kennis kollektief gebruik om dit moontlik te maak.
“Daar is byvoorbeeld mense wat besonderhede van studiebeursgeleenthede beskikbaar kan stel, ekstra klasse aan leerders of ondersteuning aan onderwysers kan bied. Ons wil ook die kwessie bestry dat universiteite die enigste alternatief is.
“Mense moet weer die waarde daarvan besef om ’n loodgieter of ’n ambagsman te word.”
Te oordeel na mediablootstelling het die BBB baie stoom verloor.
Ook dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die Solidariteit Beweging, spreek in ’n onderhoud, Helpmekaar ‘bevorder juis inklusiwiteit’, met Hanli Retief die kwessie van eksklusiwiteit of isolasie aan. Daar is nie Afrikaner-slaggate nie – AfriForum maak selfs slaggate reg waar munisipale dienste op die afgrond huiwer. Hermann sluit af: “Jy moet bou, jy moet self help, maar ook uitreik en help. En dan moet jy ook in konflik tree. Ons kom uit die vakbonde, ons weet hoe werk onderhandelinge. Ons het nog nooit binne Solidariteit ’n goeie skikking gekry sonder spanning nie, nie deur te bedel nie, maar te beding. Ironies genoeg verstaan die ANC dit beter as Piet Croucamp-hulle.”
Te oordeel na die leserskommentare onderaan mediaberigte wat oor Plan B handel, of onderaan Van Rheede se mooi broodjies vir Plan A verskyn, is dit nie baie duidelik waar die “hewige kritiek” op Plan B vandaan kom waarna die media gereeld verwys nie. Is dit nie maar ’n geval van te veel gewig verleen aan die Seunse Weenkoor wat veral in die sosiale media vrot eiertjies lê nie?
’n Parlementslid van die DA en senior bestuurslid van die party het die Toekomsberaad bygewoon en op Solidariteit se Facebookblad haar steun aan die plan toegesê. Sy is (nog nie) ge-Dianne Kohler-Barnard daaroor nie. Plan B self stuur weg van partypolitieke kantkiesery, maar die steun dui nietemin daarop dat die plan oor ’n wye ideologiese front goed afgaan.
Hoe Van Rheede se versugting dat almal moet hande vat om Plan A te laat werk enigsins met die werklikheid verband hou, is onduidelik. Hande vat gaan nie gou genoeg die ANC uit die kussings lig nie, en tot dan bly Plan A net ’n hersenskim.