
Argieffoto Foto: HeikeIr, Pixabay
Die polisie ondersoek ʼn saak van moord, poging tot moord en selfmoord, het die Vrystaat-polisie Sondag gesê.
“ʼn 38-jarige vrou van Rosettenville in Johannesburg is Saterdag om 18:30 glo na haar kêrel se huis in Germiston om melk vir hul agt maande oue baba te gaan vra,” het lt. Livhuhani Hani, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê. “Na bewering het die man aan die vrou gesê sy moet in die motor klim om saam met hom polisiestasie toe te gaan, want hy wil die baba hê.”
Volgens Hani het die vrou saam met die man in die motor geklim. “Omstreeks 20:30 by Koppiesweg in die rigting van Sasolburg, het hy glo uit die motor geklim, ʼn knopkierie en vuurwapen te voorskyn gebring en vir die vrou gesê hy gaan hulle al twee vermoor. Hy het haar en die baba met die knopkierie aangerand.”
Die man het glo ook twee skote afgevuur voordat hy weggery het en ma en kind agtergelaat het. “Die vrou het met die baba in haar arms na die groot pad loop. Dit is waar sy opgemerk het dat die kind nie meer asemhaal nie,” het Hani verduidelik. ʼn Verbyganger het die polisie ontbied.
Die polisie het ʼn soektog na die man van stapel gestuur en op die liggaam van ʼn man, wat in ʼn boom hang, afgekom. “Die verdagte se voertuig was by die liggaam. Die liggaam is vermoedelik dié van die verdagte, maar kan slegs ná formele identifikasie uitgeken word,” het hy bygevoeg.