
Rhodespark in Kensington, Johannesburg (Foto: ttruluck, panoramio.com)
Die Cleveland-polisie is op soek na 12 verdagtes wat Saterdagaand by Rhodespark in Kensington, Johannesburg, twee mans vermoor en ʼn vrou verkrag het.
“Die voorval het net voor 19:00 plaasgevind,” het lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê.
Polisieduikers het die twee mans, onderskeidelik 25 en 32 jaar oud, se liggame uit die dam gehaal. Die aanvallers het hulle vasgebind en in die dam gegooi. Paramedici het hulle op die toneel dood verklaar.
“Een vrou kon vlug, maar die ander vrou is deur ʼn aanvaller verkrag,” het Dlamini bygevoeg.
Na bewering het die twee mans en hul vroue, onderskeidelik 28 en 29 jaar oud, in die park geloop toe die groep van 12 hulle voorgekeer het. Een van die verdagtes het glo ʼn vuurwapen by hom gehad.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Die polisie doen ʼn beroep op enigiemand met meer inligting om hul naaste polisiestasie te kontak of Crime Stop by 08600 10111.