Maroela Media het vroeër berig Jaco Janse van Rensburg (38) is dood toe vermeende terroriste weermag-barakke en hotelle in sentrale Sévaré, naby Mopti, met vuurwapens en ploftoestelle bestorm het. Cobus Smal, Janse van Rensburg se swaer, het gesê hulle was Vrydag met Janse van Rensburg in kontak en hy het vir hulle gesê dat hulle aangeval word. Omstreeks 20:10 het sy foon afgegaan en hulle het nie weer van hom gehoor nie.
Smal het Maandag gesê hulle het intussen uitgevind Janse van Rensburg is drie keer geskiet: in die kop, bors en been. Hy is op die toneel dood. Twee Suid-Afrikaners wat die beleëring oorleef het, is glo op pad terug Suid-Afrika toe en sal dan met Janse van Rensburg se familie in verbinding tree om hulle te vertel wat gebeur het.
Nelson Kgwete, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, het bevestig dat twee van Janse van Rensburg se Suid-Afrikaanse kollegas die aanval oorleef het. “Die regering deel sy diepste medelye met die familie van die oorledene,” het Kgwete op Twitter gedeel.
“Ons is nou besig om met die ambassade daar [in Mali] en sy werkgewer te kommunikeer om sy liggaam terug te bring Suid-Afrika toe,” het Smal gesê. “Daar is spesifieke vereistes waaraan voldoen moet word, soos dat die liggaam gebalsem en in ’n spesiale sak geseël moet wees. Ons moet aansoek doen by die departement van gesondheid om die liggaam in die land in te bring en die nodige dokumentasie moet ingedien word. Dit is nogal ʼn proses, maar sy werkgewer staan ons hiermee by.”
Janse van Rensburg was sedert Desember verlede jaar in Mali waar hy as brandweerman vir die Verenigde Nasies (VN) gewerk het. Hy, sy vrou, Carina, en hul vier kinders woon in Booysens, Pretoria.
“Sy vrou se hart is maar stukkend. Ek dink die kinders sukkel nog om tot verhaal te kom. Dis asof hulle nog nie heeltemal besef wat gebeur het nie,” het Smal gesê. “Ek dink as die liggaam eers hier is en ons kan begrafnisreëlings tref, sal die realiteit begin insink.”