
Oscar Pistorius op 21 Oktober 2014 in die Pretoriase hooggeregshof tydens vonnisverrigtinge Foto: Themba Hadebe/AP/Pool
Die departement van korrektiewe dienste het bevestig dat Pistorius Dinsdag uit die Kgosi Mampuru II-gevangenis vrygelaat sal word. Sy paroolvoorwaardes sal onder meer behels dat hy voortgaan met psigoterapie en dat hy nie ʼn vuurwapen mag besit nie.
Wat is korrektiewe toesig?
Prof. Annette van der Merwe van die Departement Prosesreg aan die Universiteit van Pretoria het aan Maroela Media gesê die doel van korrektiewe toesig is rehabilitasie. “Daar word van die oortreder verwag om selfondersoek te doen en as mens te groei.” Sy het gesê korrektiewe toesig is eers in die vroeë 90’s as straf in Suid-Afrika ingestel.
“Dit is ʼn baie moderne benadering en probeer wegbeweeg van die idee dat tronkstraf die enigste manier is om verkeerde gedrag te verander. Die appèlhof het al in ʼn uitspraak gesê dit is nie ʼn ligte straf nie,” het Van der Merwe gesê.
Daar is sekere algemene voorwaardes wat kan geld as iemand onder korrektiewe toesig is. “Dit hang af hoe dit gestruktureer is en kan minder of meer streng wees.” Volgens Van der Merwe is daar hoofsaaklik vier hoofkomponente van korrektiewe toesig, naamlik huisarres, gemeenskapsdiens, lewensvaardighedeprogramme en monitering.
Onder huisarres sal ʼn oortreder gewoonlik ʼn sekere aantal ure vir beweging toegelaat word. “Die oortreder kan gewoonlik gaan werk, basiese inkopies doen en kerk toe gaan. Dit beteken nie hy of sy kan vanaand saam met vriende uitgaan nie. Hulle moet sekere tye by die huis wees.”
Volgens Van der Merwe is daar al dikwels kritiek uitgespreek oor korrektiewe toesig weens onder meer ʼn gebrek aan personeel, maar volgens haar is dit nie ʼn ligte straf nie. Sy het gesê in Pistorius se geval sal ʼn korrektiewe toesigbeampte gereeld oor sy skouer loer. “Alle oë gaan op hom en die beamptes wees. In ander gevalle kan iemand moontlik deur die krake val, maar dit is ʼn hoëprofielsaak dié.”
As ’n persoon van die voorwaardes verbreek, kan hy of sy moontlik ʼn waarskuwing kry, beveel word om weer voor die paroolraad te verskyn of selfs weer in hegtenis geneem word.
Daar is sekere algemene voorwaardes wat kan geld as iemand onder korrektiewe toesig is. Dit sluit in:
- huisarres;
- gemeenskapsdiens;
- die persoon mag werk soek of waar moontlik indiensneming hervat;
- vergoeding betaal aan die slagoffers;
- deelneem aan behandelings-, ontwikkelings- en ondersteuningsprogramme;
- deelneem aan bemiddeling en versoening tussen die slagoffer en die oortreder;
- kan beperk word tot ʼn sekere landdrosdistrik;
- moet ʼn vaste woonadres hê;
- mag nie alkohol of dwelms gebruik nie;
- mag nie weer ʼn misdaad pleeg nie;
- kan verbied word om spesifieke plekke te besoek; met spesifieke persone in verbinding te tree of hulle te dreig; en
- is onderhewig aan monitering.
Klik hier vir alle vorige berigte oor Oscar Pistorius op Maroela Media.