
Blade Nzimande. Foto: Flickr/GovernmentZA
Nzimande het tydens die tweede beraad oor transformasie in die hoëronderwys-sektor in Durban gesê daar is al baie bereik by die land se universiteite sedert 1994, maar daar is nog baie om te doen.
Hy het gesê hoewel dit enige student se reg is om te betoog, laat dié reg studente egter nie toe om universiteitseiendom te vernietig nie. “Ek kry die gevoel dat die gehalte van [studente se] ontledingsvermoë nie gelykstaande is aan dié van die post-1976-studente nie. Kom ons hou asseblief op met die vernietiging van eiendom. Vernietiging van universiteitseiendom is nie in die gees van ʼn Afrikaan nie. Vir hoe lank gaan hierdie sepie aangaan?” het hy gevra.
Nzimande het gesê daar kom altyd aan die begin van die jaar en tydens studenteraadsverkiesings optogte voor by die land se universiteite. Hy het gesê studente betoog dikwels voor hulle hul griewe aan die universiteit se bestuur oordra. “Ja, ons is gefrustreerd, veral oor die vernieting. Dit blyk erger te word. Ons is ernstig bekommerd daaroor,” het Nzimande tydens ʼn mediakonferensie ná afloop van die beraad gesê.
Nzimande het ook bekend gemaak dat sowat 55% van studente by universiteite nooit gradueer nie, terwyl 40% van studente wat finansiering ontvang van die nasionale studentefinansieringshulpskema nie hul eerste jaar op universiteit slaag nie.
Nzimande het verder sy kommer uitgespreek oor Afrikaanse universiteite wat volgens hom swart studente uitsluit deur middel van taal. Hy meen dié universiteite moet dubbelmedium wees en Engels op dieselfde vlak as Afrikaans aanbied.