
Foto: Verskaf.
Stad Kaapstad het Donderdag begin om weg te doen met 12 000 bottels, sowat 8 169 ℓ, alkohol wat die afgelope paar maande gekonfiskeer is. Dié stap is geneem in gevolge die stad se munisipale bepalings dat alkohol nie verbruik mag word in openbare areas nie.
Raadslid JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sekuriteit en maatskaplike dienste, het gesê die wetstoepassingsdepartement se skud het sedert Desember aan die begin van die feesseisoen uit sy nate begin bars van al die drank wat op strande en ander plekke gekonfiskeer is.
“In terme van die stad se bepalings is die besit en die drink van alkohol op strande onwettig en oortreders se drank sal gekonfiskeer word,” het Smith gesê. Hy het bygevoeg oortreders sal ʼn boete van R500 opgelê word en ʼn skrywe ontvang om in die hof te verskyn.
Lede van die publiek mag hul drank binne drie maande nadat dit gekonfiskeer is weer afhaal mits hul bereid is om R1 400 te betaal.

Foto: Verskaf.
“Uiteraard kry ons nie baie versoeke om die alkohol te kom haal nie en dit is waarom die stoor so vol is. Ons het al die moontlikheid ondersoek om die drank te verkoop en dan die geld in maatskaplikediensteprogramme te stoot, maar die reëls daaromtrent is baie streng. Daar is ook etiese en logistieke implikasies. Die naasbeste opsie is dus om die drank te vernietig,” het Smith gesê.
Volgens Smith sal die alkohol in houers wat elk ʼn duisend liter kan hou gegooi word en dan na die Vissershok-vullisterrein geneem word om uitgegooi te word.
Smith het bygevoeg dat só ʼn oefening nie vir die stad plesier verskaf nie. “Nou moet ons in hulpbronne belê om die polisiëringsplan oor die feesseisoen uit te brei om dronk mense van hulself te red én geld bestee om weg te doen met die alkohol. Dis ten spyte van talle waarskuwings dat dit onwettig is om op die strand te drink,” het Smith gesê.