Nedbank het bankkliënte Woensdag gewaarsku teen ʼn nuwe slenter waarin daar voorgegee word dat dié bank persoonlike dokumente van sy kliënte aanvra.
Die bank het in ʼn massaboodskap gesê ʼn valse e-pos doen die ronde waarin Nedbank kwansuis op “uitstaande Fica-dokumente” wag. Dié e-pos lui onder meer dat Suid-Afrikaanse banke volgens die Fica-wet inligting van kliënte moet bevestig en op datum hou.
Die kliënt klik dan op ʼn skakel om meer besonderhede oor dié dokumente te bekom, waarna hy na ʼn valse webwerf herlei word. Wanneer die kliënt dan sy profielnommer en pinkode insleutel, word geld byna onmiddellik uit die rekening onttrek.
Volgens Nedbank is talle van sy kliënte reeds met dié slap riem gevang.
“Die sekuriteit van jou bankbesonderhede is vir ons ʼn topprioriteit,” het Nedbank in die boodskap gesê. “Wees asseblief bedag op enige e-pos of SMS-boodskap wat vra vir jou besonderhede, waar onder ʼn profielnommer en pinkode.”
Die boodskap het verder aangedui hoewel die bank soms vir uitstaande inligting mag vra, hy nooit kliënte vir persoonlike besonderhede soos ʼn profielnommer en pinkode sal vra nie.
Nedbank het ook gesê kliënte moet die bank in kennis stel indien hulle ʼn verdagte e-pos of SMS-boodskap kry.
Indien jy só ʼn boodskap gekry het, kan jy dit aanstuur na phishing@nedbank.co.za.