
Hlaudi Motsoeneng Foto: news.iafrica.com
Volgens die DA minag die openbare uitsaaier die hof deur toe te laat dat Motsoeneng elke dag vir werk aanmeld. Dit het Woensdag aan die lig gekom tydens die DA se aansoek in die Wes-Kaapse hooggeregshof om Motsoeneng se permanente aanstelling van verlede jaar te hersien en tersyde te stel.
Die appèlhof in Bloemfontein het verlede week gelas dat Motsoeneng geskors en dissiplinêr verhoor moet word soos deur die Openbare Beskermer aanbeveel is. Thuli Madonsela het verlede jaar bevind dat Motsoeneng, wat destyds waargeneem het as bedryfshoof, dissiplinêr verhoor moet word nadat hy onder andere valslik aangevoer het dat hy matriek geslaag het.
Motsoeneng het Maandag ʼn kennisgewing ontvang dat hy dissiplinêr verhoor gaan word, maar die SAUK het intussen ook appèl aangeteken by die konstitusionele hof oor die appèlhof se uitspraak. Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SAUK, het bevestig Motsoeneng se dissiplinêre verhoor sal op 30 Oktober plaasvind, maar wou nie uitbrei oor die klagte teen hom nie, aangesien dit ʼn “saak tussen die werkgewer en werknemer” is.
Adv. Anton Katz SC, namens die DA, het Woensdag in die hof aangevoer Motsoeneng se oneerlikheid oor sy matriekkwalifikasie “is nie ʼn rooi lig nie, maar ʼn stopteken”. Katz het aangevoer dat Faith Muthambi, minister van kommunikasie, ʼn totaal van “agt bevindinge teen hom” geïgnoreer het toe sy hom in Julie verlede jaar permanent aangestel het.
“Ons het ʼn probleem met die proses en sy bydrae in die proses. Ons het nie ʼn probleem met hom nie,” het Katz gesê. Regter Dennis Davis het gesê die saak wat hy aanhoor, was nie oor of Motsoeneng skuldig of onskuldig is nie, maar eerder of Muthambi rasioneel opgetree het toe sy hom permanent aangestel het.
Hy het gesê mense mag foute maak, maar dat die vraag is of die minister opgetree het soos wat van ʼn rasionele besluitnemer verwag sou word. “Dit gaan nie oor Motsoeneng nie. Wat belangrik is, is wat ons van ons ministers verwag.”
Uitspraak is voorbehou.
Klik hier vir alle vorige berigte oor Hlaudi Motsoeneng op Maroela Media.