
Die selfoon en juwele wat aan Sophie Gehring behoort het (Foto: SAPD)
Vier mans is in hegtenis geneem in verband met die moord op die 72-jarige Sophie Gehring van Riebeeckstad in die Vrystaat.
“Drie Suid-Afrikaners en ʼn man van Lesotho is Dinsdag in hegtenis geneem in verband met die moord,” het kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die polisie, gesê.
Maroela Media het vroeër berig Gehring is verlede Dinsdag gevind. Haar kop was met ʼn plastieksak bedek en haar hande is stewig vasgebind met ʼn plastiektou. Haar aanvallers het juwele en ʼn selfoon gebuit.
“Die verdagtes is omstreeks 12:00 aangekeer,” het Thakeng gesê. “Hulle is in Thabong in hegtenis geneem. Die polisie het beslag gelê op ʼn selfoon wat aan die slagoffer behoort het, en juwele wat haar dogter op spesiale dae soos Moedersdag en haar verjaarsdag vir haar gegee het.”
Volgens Thakeng kon die dogter haar ma se selfoon en juwele uitken. “Die drie staan tereg op aanklag van moord en roof.”
Die ondersoekspan is gelei deur ao Elliot Khutsoane. “Die verdagtes sal binnekort in die Welkom-landdroshof verskyn. Hulle is almal tussen 26 en 29 jaar oud,” het hy bygevoeg.